HESSEQUA NUUS - "Dwelmhandelaars is gewetenlose kriminele, hulle sal die swakkes gebruik en liggelowiges sowel as gulsiges uitbuit."
Só het die staatsaanklaer se slotbetoog gelui tydens die vonnisverrigtinge van die dwelmhandelaars. Vier dwelmhandelaars, drie van Stilbaai en een van Albertinia is onlangs swaar vonnisse opgelê.
Stefan Duitsjan is op 18 Januarie op drie aanklagte van handeldryf in tik, Mandrax en dagga gearresteer. Die drie aanklagte is saamgevoeg en hy is op 18 Mei vier jaar per aanklag gevonnis en moet 12 jaar direkte gevangenisstraf uitdien.
André Cloete is in Desember verlede jaar op drie aanklagte van handeldryf in tik, dagga en Mandrax gearresteer. Die aanklagte teen hom is saamgevoeg en hy is op 22 Mei 'n totaal van 12 jaar direkte gevangenisstraf opgelê.
Brandon Smit word in Desember verlede jaar op twee aanklagte van handeldryf in Mandrax en dagga gearresteer. Hy word op 22 Mei tot drie jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die handel in dagga en vier jaar vir handel in Mandrax.
Clive Bostander van Albertinia word op 25 Januarie op twee aanklagte van handeldryf in dagga en Mandrax gearresteer. Hy word op 24 Mei tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar opgeskort word.
André Cloete, Stefan Duitsjan, Brandon Smit en Clive Bostander.
Die harde werk en toewyding van sers. JM Spangenberg en konst. Christiaan Zwiegelaar het hierdie arrestasies en vonnisse moontlik gemaak.
Spangenberg het gesê: "Dit behoort toekomstige smokkelaars te ontmoedig om hierdie 'beroep' te volg."
Die staatsaanklaer het bygevoeg dat dwelmhandelaars nie omgee vir diegene wat hul bose doelwitte fasiliteer nie en gesê: "Hulle het ook geen besorgdheid oor die lewens wat hulle deur dwelmhandel verwoes nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'