RIVERSDAL NUUS - 'n Plaaslike jong man en sy medestudent van Bredasdorp het verlede jaar so goed op Elsenburg-landboukollege presteer dat hulle 'n gesogte studietoer na die Oos-Kaap kon meemaak.
Die studietoer wat die wolketting bestudeer is vanjaar vir die sewende keer deur die Nasionale Wolkwekers-vereniging (NWKV) aangebied en Jan Hendrik van Zyl van Riversdal en Uys Blom van Bredasdorp is vir hul goeie punte aan die Elsenburg-landboukollege daarmee beloon.
Die toer het 'n besoek aan 'n wolpakhuis, wolveiling, toetshuis en prosessingsfasiliteit ingesluit. Die fyner maatreëls wat noemenswaardige verbetering tot skeersels kan bewerkstellig en die nadele van ongewenste voorwerpe in wolbale is uitgewys.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring wat opvoedkundig en interessant was," meen die derdejaarstudente wat gedurende die eerste week van Februarie die toer na Port Elizabeth en die Uitenhage-omgewing meegemaak het.
Dié twee het goed presteer in hul vakke wat teling en praktiese areas in studie van die Suid-Afrikaanse vleismerino- en merino-kursus en merino-prakties ingesluit het.
Jan Hendrik is AJ van Zyl, wat in 2019 saam met Christiaan Kotze dié toer meegemaak het, se broer.
Die twee slimkoppe is deur Wes-Kaap NWKV-sekretaris Tania Lusse, student Daniël du Toit en Tygerberg-proefplaasbeampte, Hendrik Vaaltyn, vergesel.
Volgens die NWKV is die toer 'n belegging in die jeug en 'n ondervinding wat nie in geldwaarde bepaal kan word nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'