STILBAAI NUUS - Stilbaai se eerste stadsklerk, Jozua Beukes (95) is op 30 Maart, net minder as twee maande voor sy 96ste verjaarsdag in Pinelands oorlede waar hy en sy vrou, Lilian by hulle seun, Cecil Beukes, gewoon het.
Jozua en Lilian het geweier om in 'n ouetehuis te bly en het in November 2020 Pinelands toe getrek.
Lilian is twee maande later, op 28 Mei, oorlede, presies 15 dae na haar 95ste verjaarsdag. Dit was natuurlik vir die familie 'n groot skok om albei só kort na mekaar te verloor.
Lilian het net voor Covid-19 haar bekkenbeen gebreek en tydens die Covid-pandemie het sy 'n heupvervanging gehad.
Die egpaar was 74 jaar getroud en was vir 56 jaar in Stilbaai woonagtig.
Jozua het van Wolseley af op 31 Augustus 1964 na Stilbaai verhuis om hier as sekretaris van die dorpsraad te begin werk. Stilbaai het toe nog nie 'n munisipaliteit, elektrisiteit of selfs 'n spoelstelsel gehad nie.
Sy dogter, Anette Cronjé, vertel watter skok dit was om van Wolseley, met sy elektrisiteit, te kom woon in 'n dorp met kerslig en paraffienlampe.
Menige nag moes Jozua self inspring om te help met die emmerstelsel van die dorp. Daardie jare was dit ook nog stofstrate. Die teerpad het net gekom tot by die dorp.
Op 1 Januarie 1966 het hy die eerste stadsklerk van Stilbaai geword tot en met sy aftrede op 31 Mei 1984.
Sy eggenote, Lilian, het begin werk by die Stilbaai-Oos sentrale op 1 Oktober 1964 en sy het later posmeester van die nuwe poskantoor in Stilbaai geword tot en met haar aftrede op 31 Desember 1983.
Jozua was baie aktief en het in sy negentigs nog self George toe gery. Hy was ook 'n baie handige man in die huis en het nie geskroom om wasgoed te was, huis skoon te maak of kos te maak nie. Toe hulle Pinelands toe trek, het hy egter sy motorsleutels afgegee en nie meer self bestuur nie.
Die egpaar laat drie dogters en een seun agter en hulle kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike tyd wat hulle as gesin in Stilbaai gehad het nie. Hul een dogter, Anette, woon nog steeds in Stilbaai.
Die Beukes-egpaar het voorwaar diep spore in Stilbaai getrap.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'