Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie het Projek Hoop op Woensdag 6 Junie by Melkhoutfontein Primêr van stapel gestuur om euwels soos gesinsgeweld, dwelmmisbruik en kinders wat voortydig skool verlaat, toe te lig ter viering van nasionale kinderbeskermingsweek.
Sers. Chrisy Lewaks, koördineerder van misdaadvoorkoming, en Corrie de Jager, liefdadigheidswerker, het 'n paar leerders wat gedragsprobleme toon, bewus gemaak van die nadele van vroeë skoolverlating en die invloed wat afwesigheid van die skool op hul loopbaan sal hê.
Tydens 'n inligtingsessie is ouers gewaarsku dat hulle gearresteer kan word indien hulle nalaat om 'n kind by die skool te besorg.
"Ons het die leerders oor dwelmmisbruik en die negatiewe invloed daarvan op hul lewens ingelig, want ons vind dat die euwel ook hier kop uitsteek," het Lewaks gesê.
'n Inligtingsessie oor besluitneming is ook gehou. "Ons ervaar dat jongmense baie oningelig is oor die korrekte keuses wat hulle moet maak. Groepsdruk speel 'n groot rol hierin, asook 'n gebrek aan positiewe rolmodelle in die samelewing."
Die polisie doen 'n beroep op ouers om nasionale kinderbeskermingsweek nie slegs een week per jaar uit te leef nie, maar elke dag in te gryp in onskuldige kinders se lewens. Hulle vra ook die gemeenskap om kindermishandeling aan te meld sodat oortreders vasgevat kan word.
Verskeie opvoedkundige programme is met die leerders gedoen om belangstelling in verskillende aktiwiteite te prikkel met die doel om hulle van die straat af te hou.
Die projek is feestelik met 'n ete afgesluit, waartydens past. Jan Kleynhans, voorsitter van gemeenskapspolisiëring 'n bemagtigende boodskap aan ouers gebring het. Konst. Christiaan Zwiegelaar het 'n sangitem gelewer.
Stilbaai-polisie bedank OK Foods, Tabeel, PEP Stores, Fish A Lot, Lilliput, Lappies en Lint, Saayman Taxis, Carla Barnard, Yolanda Mostert, Pat, Hannetjie Ferguson, Charissa de Jager, Emily Odendaal en Faith October vir die borg van hierdie projek.
Leerders van Melkhoutfontein Primêr glimlag breed oor die kospakkies wat hulle tydens Projek Hoop ontvang het.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai-polisie reik uit na leerders
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'