Update Video
RIVERSDAL NUUS - Die toekoms van die stasie lê in die hande van Transnet, of dalk in 'n belegger wat bereid is om dit in 'n sieraad vir die dorp te omskep.
Die stasie, wat op 23 Maart 1936 amptelik in gebruik geneem is, het in die vroeë negentigs in onbruik geraak namate vragmotors swaar vrag begin vervoer het.
By navraag het Akona Ngqinambi, waarnemende streekbestuurder van Transnet se eiendomsafdeling gesê: "Die munisipaliteit wou die gebou in 'n stadium huur. Dit kan nie verkoop word nie omdat Transnet dit moontlik self in die toekoms weer in gebruik kan neem."
Volgens die munisipaliteit is hulle die keuse gebied om die stasiegebou 'teen 'n nominale bedrag' te huur.
Kyk 'n video hieronder:
"Na deeglike inspeksie van die gebou is die herstel en graderingskostes wat aangegaan sal moet word om dit op standaard te kry oorweeg en die munisipaliteit het weens die potensiële finansiële implikasie daarteen besluit om die gebou by Transnet te huur. Op 1 April 2019 is daar skriftelik aan 'n verteenwoordiger van Transnet bevestig dat Hessequa-munisipaliteit nie belangstel om die stasiegebou te huur nie."
Dit beteken dat die verwaarloosde stasie 'n misdaadbrandpunt gaan bly.
"Die stasie is 'n hool van misdaad," sê sers. Hans Busch, Sektor 1-bestuurder. "Die verwaarloosde, donker stasie is dikwels die toneel van aanranding, roof, moord en verkragting. Mense wat middae na werk van Heidelbergweg deur die stasie kortpad kies huis toe, word aan gewapende misdadigers blootgestel wat hulle aanrand en beroof. Niemand is hier veilig nie."
Volgens ao. Chris Botha van die polisie is Transnet-wagte glo snags aan diens, maar nie met groot sukses nie. Die munisipaliteit het intussen aangedui dat ondersoek ingestel sal word na beter beligting.
Inwoners wat genader is, glo die stasie kan met groot vrug in 'n toerismesentrum omskep word, mits 'n belegger gevind kan word wat bereid is om die geboue te huur en op te knap.
Lees 'n vorige berig hier: Riversdalstasie 'n misdaadhool
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'