STILBAAI NUUS - Die NSRI se Stasie 31 het Saterdag 1 Oktober 'n baie geslaagde ope dag gehou waar hulle die geleentheid gebruik het om mense bewus te maak van waterveiligheid en wat hulle moet doen om veilig te bly.
Stefan Grové van Stasie 31 sê die NSRI behoort aan die gemeenskap en dat hulle uit die gemeenskap vir die gemeenskap is. Hy sê daar is 'n fokusverskuiwing van proaktiewe na reaktiewe optrede.
Hulle spandeer baie tyd aan die opvoeding van swemmers en booteienaars sodat hulle in staat is om na hul eie veiligheid om te sien.
Die NSRI het ook 'n toepassing (app)ontwerp wat gratis afgelaai kan word van Google Play. Dit is die NSRI SafeTRX-toepassing en dit monitor 'n boot of kajak se roete en sal noodkontakte in kennis stel as die boot of kajak in die moeilikheid is.
'n Mens kan dus jou roete inlees en jou beraamde tyd wat jy terug behoort te wees. As daar dan 'n probleem op jou roete opduik, kan jy 'n noodknoppie druk of as jy nie in die bestemde tyd terug is nie kan hulle jou gaan soek.
Deur die loop van die dag het Stasie 31 oefeninge gedoen met "drenkelinge" wat hulle in die see gaan red het en 'n "beseerde persoon" is van die rotse af gehaal en seelangs afgevoer.
Stasie 31 se noodnommer is 082 990 5978.
Die NSRI se Stasie 31-kantoor in Stilbaai.
'n "Drenkeling" word uit die see opgepik deur bemanningslede van Stasie 31. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'