Update
HESSEQUA NUUS - Met Kaapstad wat Dag Zero in die gesig staar, het die voorsiening van water 'n ernstige werklikheid geword en is die vraag of dié streek genoeg water het.
Hessequa-streek is van verskeie waterbronne vir die onderskeie dorpe afhanklik.
Die Korentepoortdam lewer water aan Riversdal en omliggende plase. Riversdal ontvang 'n toegelate waterkwota van
1 200 000m3 per jaar. Die kwota is veral krities tydens droër en lae reënvalperiodes, omdat die landboubedryf ook waterverbruikers van die Korentepoortdam is.
Die Duivenhoksdam lewer aan Witsand, Heidelberg, Slangrivier en omliggende gebiede.
Die damvlak op 5 Februarie was 100%, maar hoewel die opvangsgebied goeie reënval die afgelope maand ontvang het, bly waterbeperkings steeds in plek.
'n Kwota van 2 200m3 water per dag word deur die Overberg Waterraad toegestaan en verdeel tussen Heidelberg, Slangrivier en Witsand.
Laasgenoemde ontvang ondergrondse water van die Overberg Waterraad, maar onttrek ook water uit gelisensieerde boorgate gedurende die feesseisoen (Desember/Januarie).
Albertinia en Gouritsmond is uitsluitlik afhanklik van ondergrondse waterbronne. Sewe boorgate en een fontein voorsien water vir hierdie dorpe.
Stilbaai se water word onttrek uit verskeie onder- en bogrondse bronne, naamlik: Attie Nel-boorgat, Platbos-boorgat, Olienhoutfontein, Grootsandfontein, Hawefontein en Olive Grove-dam. Fonteine word bestuur volgens 'n waterverbruikers lisensie en word 'n perk van onttrekking op die fonteine geplaas.
Enige oorloop van water sal op 'n natuurlike wyse in die rivier terugvloei. Indien die perk nie oorskry word nie, kan meer water uit die fontein onttrek word.
Indien meer water uit die fontein onttrek word, sal die bestaande pomp infrastruktuur ook vergroot moet word.
Klimaatsverandering raak 'n aspek wat baie meer in berekening gebring moet word in die daaglikse lewe.
Met die verandering van weerpatrone is die hoeveelheid reënval, asook die gereeldheid daarvan nie meer so seker as vantevore nie.
Dit blyk dat groter hoeveelhede reën in korter tydperke verwag kan word en langer tydperke van geen reën nie.
Die mens en omgewing se afhanklikheid van reën/opgegaarde water word net groter en is dit noodsaaklik dat die water waaroor ons beskik verantwoordelik bestuur word.
Landbou is een van die grootste drywers van die ekonomie en is absoluut afhanklik van klimaatstoestande en beskikbaarheid van water.
Vir die voorafgaande redes is dit uiters noodsaaklik dat bestaande bronne volhoubaar benut word.
Gedurende die afgelope vier jaar het Hessequa reeds waterbesparingsmaatreëls ingestel om watergebruikspatrone te verander, met groot sukses.
Die huidige waterbeperkings sal ook help om konstante lewering van water te verseker.
Die munisipaliteit het op 6 Februarie met die departement plaaslike regering Wes-Kaap, water en sanitasie nasionaal, Eden-distriksmunisipaliteit en Breede-Gouritz Water Catchment Management area vergader oor droogte-assessering en maatreëls wat getref kan word.
ARTIKEL & FOTO: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'