Update
HESSEQUA NUUS - Die staking deur werkers van Southern Oil (Soill) wat Vrydagoggend 17 Mei begin het, is na 'n week op Donderdag 23 Mei afgelas.
Dit volg na suksesvolle onderhandelings tussen Soill en die werkersvakbond, BAWUSA om aan die werkers se eise van 'n 13de tjek te voldoen.
Die werkers het gedurende die week van die staking verskeie betogingsaksies buite die fabrieksperseel geloods waartydens hulle toi-toi het. Een van die fabriek se voertuie is ook beskadig. Alle werk is deur die BAWUSA-lede vanaf Donderdagaand om 22:00 hervat.
Volgens Erin Drayton, Soill se openbare betrekkinge beampte, is die bestuur tevrede dat die staking beëindig is. Hulle bedank die vakbondleiers vir die produktiewe samesprekings wat tot voordeel van die plaaslike werkers sal strek. Hulle bied ook verskoning aan al hulle kliënte en individue wat negatief deur die staking geraak is.
"Ons as Soill sal ons bes doen om alle foute in dienslewering so spoedig moontlik te herstel."
Drayton het benadruk dat die bestuur daarna uitsien dat produksie weer na normaal sal terugkeer en dat geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling en opleiding vir personeel wat hulself in hul persoonlike kapasiteit wil bemagtig, beskikbaar gestel sal word. "Soill glo in hul personeel en handhaaf hul toegewydheid om die kernwaarde van 'gesamentlik kan almal meer bereik', te bevorder."
Nosey Pieterse, vakbondaktivis wat die werkers bygestaan het, kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar verskeie plaaslike leiers het hul tevredenheid daarmee dat 'n ooreenkoms bereik kon word, uitgespreek.
Lees 'n vorige artikel hier: Soill-staking beëindig
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'