RIVERSDAL NUUS - Tim du Plessis is een van daardie bevoorregte joernaliste wat kan spog met 'n voorste ry-kaartjie by van ons land se deurslaggewende gebeurtenisse.
Dinge soos die omstrede era waarin PW Botha die septer geswaai het, die NP-skeuring en stigting van die KP, die verbrokkeling van apartheid, die onderhandelingsjare by die World Trade Centre in Kempton Park wat hy as 'n persoonlike hoogtepunt uitsonder, 1994 se eerste demokratiese verkiesing en die daaropvolgende oorgang na demokrasie om maar 'n paar te noem.
In 1976 het Tim 'n BA-graad in Kommunikasieleer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) behaal.
In 1978 het hy 'n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, waar hy onder die bekwame hande van prof. Piet Cillié die fynere punte van joernalistiek geleer het.
Tim se heel eerste pos as algemene nuusverslaggewer was by Beeld.
Gou het sy kop na die politiek gestaan en vanaf 1981 tot 1989 was hy politieke korrespondent by dié koerant.
Ten spyte van sanksies was hy baie kere in die buiteland, veral in Afrika wanneer hulle oor die ANC berig het. In 1992 het hy vir 'n jaar na die Harvard Universiteit in Boston, Amerika gegaan waar hy 'n Nieman-Fellowship voltooi het.
Daar het hy veral geleer hoe belangrik dit is dat die media onafhanklik moet wees en daarvoor het hy later jare hard baklei.
Voor Tim by Rapport beland het, het sy pad deur City Press en The Citizen geloop, maar hy het die Afrikaanse leefwêreld geweldig gemis.
Dit was 'n heerlike geleentheid om in 2001 aangestel te word as Rapport se redakteur.
In 2009 is hy aangestel as redakteur van die Beeld se dagblad, 'n pos wat hy beklee het tot 2011 toe hy as hoof van Afrikaanse koerante by Media24 aangestel is.
In 2014 het hy besluit om die rolpers vir televisiekameras te verruil en het hy by kykNET aangesluit, waar hy deesdae hoof van aktualiteit van hierdie kanaal is.
Hy tree gereeld self in aktuele televisieprogramme op.
In sy laaste maandverslag aan die Media24-direksie het hy geskryf: "Die grote Jan Rabie het gesê: 'Sonder Afrikaans is ek niks.' Sonder 'n gedugte Afrikaanse media is Afrikaans niks."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'