Update
HEIDELBERG NUUS - Die sukses van Heibi se rugbyspanne tot dusver hierdie jaar is besig om 'n oplewing in die dorp se sport- en kultuurlewe teweeg te bring.
Die dorp het die afgelope jaar of wat onder 'n vlaag misdaad deurgeloop wat moord, asook misdade weens drankmisbruik en roof en aanranding deur skoolkinders insluit.
Plaaslike persone wat by sport, kultuur en onderwys betrokke is, het op Dinsdag 21 Mei onder leiding van Julian Buis, voorsitter van Heidelberg-rugbyklub, bymekaar gekom ten einde 'n plan te beraam oor hoe om sport en kultuur in te span om meer aktiwiteite vir veral jongmense en kinders daar te stel.
Buis het verduidelik hoe bestaande sportsoorte, soos krieket, meer ondersteuning kan kry, en netbal op junior en senior vlak weer aan die gang kan kom.
Instansies, soos sport- en ontspanningsklubs, seniors, skole en kerkorganisasies gaan betrek word in 'n gesamentlike poging om 'n gesonde gemeenskapslewe aan die gang te kry en te hou.
'n Oorkoepelende liggaam soos 'n sport- en kultuurforum, wat kan verseker dat aan die behoeftes van veral jongmense op alle vlakke voorsien word, is voorgestel.
Buis het die hoop uitgespreek dat verteenwoordigers van elke instansie en selfs besighede by die vergadering wat vir 7 Junie in die gemeenskapsaal belê word, teenwoordig sal wees sodat die beoogde struktuur so gou moontlik met sport- en kultuurwerksaamhede kan begin.
Agter, van links: Vennito van Niekerk (mede-sameroeper), Heinrich Hartnick (krieket), Thomas Meyers (Young Royal Shepherds Kersfeeskoor), Michael Williams (krieket), Julian Buis (Heidelberg rugby en sameroeper) en Peter-John Davids (Goliath Davids Legacy Project). Voor: Nicolene van Niekerk (Kleine Pikkewyne voorskool), Alex Marshall (media) en rdl. Lisby Pieterse. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Sport- en kultuurforum vir Heidelberg beoog
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'