HESSEQUA NUUS - Met Nasionale Tuindag wat op Sondag, 11 Oktober gevier sal word, sal dit Hessequa se inwoners verseker die geleentheid bied om as inspirerende blomkrans-ambassadeurs lente meer kleur te gee.
Suid-Kaap Forum wil graag met privaat tuinliefhebbers se werk aanlyn spog.
Of jou tuin tydens inperking verfraai is met rose, Mondeo gras, Aloe, Watsionias, Lavender, Heuningblomme, Dalihias, of net opgeknap en in ‘n plek van rustigheid omskep is, epos vir ons ‘n foto na christo@groupeditors.co.za of Whatsapp dit na 082 788 4933.
Thembalethu Khumalo, kommunikasiebeampte vir die Nasionale Tuindag-inisiatief sê op Tuindag gaan unieke groen ruimtes en tuine in elke vorm en grootte gevier word.
“Tuindag, geskep met die tuin-toep Candide, is ? groeiende beweging wat al sedert 2016 mense met ‘n liefde vir plante en blomme verenig. Hierdie jaarlikse viering nooi alle plantliefhebbers , die verskaffers van kitsgrasperke, werkers in gemeenskapstuine, groenteverbouers, planters op patio’s en vensterbanke en in daktuine om ? blomkrans op te sit, ? slag hul tuingereedskap neer te sit en die vrug van hul arbeid te geniet,” sê hy.
Khumalo verduidelik dat Tuindag vanjaar veral betekenisvol gaan wees met inperking wat die geleentheid gebied het om tuis te bly en blomme te plant. “Oor die laaste paar maande het Suid-Afrikaners hulle na groen ruimtes gewend vir vertroosting en balans. Daar is bewys dat tuinmaak geestelike en liggaamlike welsyn bevorder, en ? gevoel van samehorigheid en verbondenheid skep. Met die lente in die lug bied dit ? geleentheid om bietjie asem te skep, na te dink en ? seisoen vol nuwe geleenthede te vier. Of jy ? piekniek in die buitelug saam met jou gesin geniet of jou groen hawe aanlyn met vriende deel, Tuindag gaan daaroor om ? oomblik stil te staan en die groenigheid om jou wat jou vreugde verskaf te waardeer.”
Meer nuus oor Nasionale Tuindag vieringe binne Hessequa eersdaags aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'