RIVERSDAL NUUS - Petrusa Marais kry steeds trane in haar oë wanneer sy oor haar oorlede seun Stefan praat.
Stefan (16) het op 19 Januarie verlede jaar tydens 'n ongeluk op die Goukourivier op Stilbaai kort na sy terugkeer van die Vasbyt, gesterf. Die Vasbyt-program, wat jaarliks deur Temba-toere aangebied word, leer jeugdiges uithouvermoë.
"'n Mens sou kon sê sy slagspreuk vir die lewe was 'Voluit na volheid',"
vertel Petrusa. "Ons kon sien hoe hy dit elke dag van sy lewe uitleef. Hy was slegs by dinge betrokke wat sy lewe verryk het."
Andries Erwee van Temba-toere het Petrusa en haar man, Pine, genooi om Vasbyt-2019 by te woon met die doel om hul seun se voetspore tydens die laaste drie weke van sy lewe te volg. Sy het die 'sagte' week van die Vasbyt vir seuns gedoen, terwyl Pine die hele drie weke meegemaak het.
"Ek huil nou nog oor hom. Ons weet steeds nie presies wat daardie dag gebeur het nie en worstel daarmee. Dit voel asof die werklikheid van sy dood nou eers insink – dit word net erger."
Petrusa, 'n onderwyser, sê haar lewensuitkyk en perspektief het heeltemal verander. Sy noem ook dat sy waardevolle lewenslesse geleer het wat sy nou aan ander kinders en leerders oordra.
"Geen foto of video kan die waarde van die Vasbyt weergee nie. Fiksheid is noodsaaklik om met al die fisieke aktiwiteite by te hou, maar die geestelike waarde van menswees, dissipline en leierskap is onbeskryflik. Ek kon sien Stefan het tydens die Vasbyt 'mens' geword en werklik volheid bereik. Hy het heelpad huis toe daaroor gepraat."
Voor die Vasbyt kry elkeen van die 40 deelnemers navorsingswerk wat hulle tydens die toer met die ander lede moet deel. 'n Legendariese held, vier voëlspesies en 'n spesifieke boomsoort word aan elkeen toegewys. Hulle moet die onderwerpe bestudeer en die voëls en boom in die veld kan uitken.
Die boom word met 'n plaatjie gemerk waarop die boom en die seun se naam aangebring word. Stefan se boom was 'n essenhoutboom by die Victoriawaterval in Zimbabwe. Tydens hul besoek het Petrusa en Pine 'n kruis by dié boom opgesit. Hulle het ook 'n gegraveerde slot by die brug oor die Victoriawaterval, waar Stefan 'n reksprong gedoen het, aangebring.
Elke deelnemer aan die Vasbyt-program moet hul avontuurvrese oorkom deur aan verpligte aktiwiteite soos reksprong en witwaterroei deel te neem. Die Vasbytvoertuie word vernoem na oud-Vasbyters wat reeds oorlede is en die sesde voertuig is na Stefan vernoem. Dié gebaar laat elke ontslape oud-Vasbyter se legende voortleef.
"Dit was 'n groot helingsproses," sê Petrusa. "Nie dat dit alles kon heel nie, maar ek het die waarde van die program besef en dit het baie betekenis tot ons drie se lewens gevoeg."
Stefan het vroeër die saadjie van 'n reisagentskap geplant wat haar gemotiveer het om haar eie reisagentskap te begin. Hulle het as gesin saam 'n naam uitgedink en vandag reël Petrusa in haar vrye tyd wegbreke en toere.
"Om te weet Stefan was gelukkig, het die lewe geniet en voluit gelewe is 'n groot vertroosting vir ons."
Petrusa en Pine het ’n gegraveerde slot by die Victoriawaterval-brug, waar hy 'n reksprong gedoen het, vasgesluit.
Stefan se lewensuitkyk 'Voluit na Volheid' is op die slot gegrafeer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'