Gallery Update Video
SLANGRIVIER NUUS EN VIDEO - Na meer as 'n jaar se gewag na 26 begunstigdes van die Asla Park-behuisingsskema in Slangrivier hul titelaktes ontvang het, het nog 41 eienaars op Vrydag, 16 Julie hul aktes as bewys van eienaarskap in ontvangs geneem.
Dit bring die totaal op 210 begunstigdes van die buurt wat nou volwaardige eienaars is.
As gevolg van die inperkingsregulasies het die afvaardiging van die provinsiale regering en Hessequa-munisipaliteit by die gemeenskapsaal ontmoet, vanwaar hulle na die begunstigdes se huise gegaan het om die oorhandiging te doen.
Die afvaardiging is kortliks deur Tertuis Simmers, Wes-Kaap minister van nedersetting, Grant Riddles, Hessequa se uitvoerende burgemeester, asook Gerald Boezak, plaaslike wyksraadslid toegespreek. Die verrigtinge is ook deur die portefeuljevoorsitter Margaret Jakobs, speaker van die raad Andrew Stroebel, asook raadslede Ben Smith en Tinus van den Berg bygewoon.
Fotogalery: Slangrivier begunstigdes kry titelaktes
Tydens die oorhandiging by hul huise het Simmers gesê dat die titelaktes as 'n middel uit armoede gebruik kan word.
Kyk 'n video hieronder:
"Pas dit op en moet nie dat dit in die verkeerde hande beland nie. Dit verskaf ook ons mense met 'n gevoel van veiligheid, waardigheid en trots omdat hulle volle eienaarskap van hul eiendomme het," het hy gemaan.
Riddles en Boezak het die begunstigdes ingelig oor hoe waardevol hul eiendomme is.
"Ons wil nie hoor julle het julle huise vir 'n appel en ui verkoop nie."
Hulle is aangemoedig om hul testamente op te stel om onnodige probleme in die toekoms te vermy.
Een van die begunstigdes, Abraham September (55) het gesê dat dit 'n groot oomblik in sy lewe is.
"Ek is opreg dankbaar vir die titelakte. Ek het reeds my huis vergroot en ek sal die dokument gebruik om my my drome te verwesenlik, omdat ek nog groot planne vir my eiendom het."
Maria Saaiman (59) het uitbundig gesê dat dit die kersie op hul nessie is.
"Ek dank God en die minister wat dit moontlik gemaak het. Dit beteken die wêreld vir ons omdat dit 'n nalatenskap vir ons kinders en kleinkinders laat."
Dinah Adams was die eerste eienaar wat haar titelakte in ontvangs van Tertuis Simmers (middel) geneem het. Van links staan Grant Riddles, Gerald Boezak en Andrew Stroebel. Foto's: Clive Pretorius
Sirelene Michaels hou haar titel trots omhoog. By haar is Gerald Boezak, Tertuis Simmers en Grant Riddles.
Vorige artikel: Nog begunstigdes kry titelaktes
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'