Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Nuwe gif is gebruik om vier honde in Tuinstraat, Albertinia te vergiftig.
Drie van die honde wat met slakgif, gemeng met varkvet en pap vergiftig is, het oorleef.
Volgens Marius Jordaan, wie se Duitse herdershond, Ceasar, ook geteiken is, is die honde Sondag 2 Junie van ongeveer 10:00 af een na die ander aan die een kant van Tuinstraat vergiftig.
'n Skaaphond en 'n Labrador-kruising by Tuinstraat 52, die Marx-egpaar by Tuinstraat 54 se Great Dane en Ceasar op die hoek van Tuin- en Kloofstraat het deurgeloop.
Ceaser, wat sowat 'n jaar oud is, het oorleef. "Ons is baie erg oor ons hond, veral omdat ons die vorige een aan kanker verloor het. Ons is gewoond daaraan dat hy altyd by ons is, maar toe hy Sondagmiddag omstreeks 18:00 nie kom toe ons hom roep nie, het ek dadelik onraad gemerk," het Jordaan gesê.
Uiteindelik het hulle hom in die agtertuin, wat aan 'n leë erf grens, gekry. Die feit dat hy gebraak het, het daarop gedui dat hy moontlik vergiftig kan wees. "Ons het dadelik die veearts op Danabaai gebel, wat gesê het ons het 15 minute om hom daar te kry as ons sy lewe wil red." Hulle het veearts toe gejaag, waar die hond behandel en oornag gehou is. "Ons het hom vanoggend gaan haal en gelukkig is hy buite gevaar. Ons gee vir hom antibiotika en koolstofpille en die veearts het aanbeveel dat ons hom binne hou.
"Dit is net die groot honde in die straat wat gewoonlik blaf wanneer hulle iemand gewaar, wat vergiftig is."
Volgens hom het die veearts aanbeveel dat 'n mens 'n hond wat vermoedelik gif ingekry het, 'n mengsel van water en poeierseep moet ingee wat braking sal veroorsaak.
Geaktiveerde steenkool sal die gif in die maag absorbeer en hierdie maatreëls sal jou bietjie meer tyd gee om by die veearts uit te kom.
Audrey Lacey, wat omsien na troeteldiere in die dorp, het gesê inwoners moet voorkomend optree deur hul honde binne te hou en toe te sien dat net een persoon hulle voer sodat hulle nie kos van iemand anders sal aanvaar nie.
Dr. Tina Kaldenberg wat een van die honde behandel het, het gesê tipiese simptome van vergiftiging met slakgif, waar klein of jong hondjies dit per ongeluk ingekry het, is oormatige kwyling, spiertrillings, lusteloosheid en die hond is van balans af. In erge gevalle kan die hond stuiptrekkings kry.
Die voorvalle is by Albertinia-polisie aangemeld en hulle ry ekstra patrollies in die woonbuurte om soortgelyke voorvalle te probeer voorkom, omdat dit dikwels 'n inbraak of voertuigdiefstal voorafgaan.
Lees 'n vorige artikel hier: Honde in Albertinia met slakgif vergiftig
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'