HESSEQUA NUUS - Die plaaslike munisipaliteit het weereens 'n skoon ouditverslag vanaf die ouditeur-generaal ontvang vir die 2016/2017 finansiële jaar.
Dit is die vierde agtereenvolgende jaar waarin die munisipaliteit hierdie prestasie behaal.
Die ouditeur fokus op drie aspekte tydens hul ondersoek: Finansiële bestuur, prestasiebestuur en inligtingstegnologie.
'n Skoon ouditverslag beteken dat die ouditeur-generaal tevrede is en dat alle wette en regulasies wat daargestel is, nagekom word.
Dit is die hoogste toekenning wat 'n munisipaliteit van die ouditeur-generaal kan ontvang.
Munisipale bestuurder Johan Jacobs het gesê dat die munisipaliteit nie net op koers bly nie, maar dat goeie leierskap en bestuur getoon word.
"Die skoon ouditverslag toon die verbintenis van die personeel om dienste van hoë gehalte te lewer, asook hul toewyding tot goeie bestuur en nakoming van wetgewing.
"Hierdie prestasie bewys dat die munisipaliteit daarin geslaag het om beginsels en prosedures te inkorporeer, om dissipline en stabiliteit te handhaaf in die munisipale omgewing.
"Een van die kernpunte van die oudit is die bereiking van die raad se doelwitte soos verwoord in die geïntegreerde ontwikkelings plan en begroting en soos oor gerapporteer in die finansiële state en jaarverslag."
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, noem dat 'n skoon ouditverslag oor meer as net finansies gaan.
"Dit is ons plig as munisipaliteit om deurentyd na die beste van ons vermoë in diens van die gemeenskap te wees."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'