Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Leerders van Voorwaarts Primêr het Maandag 16 September 'n vreedsame protesaksie teen geweld teen vroue en kinders op hul skoolterrein gehou.
Opvoeders en leerders, almal in swart geklee, het plakkate met 'n boodskap teen geweld vertoon en 'n uur van die skooldag afgestaan om op die ernstige vlaag van geweld in die land te fokus.
"Vandag spreek ons ons misnoeë uit teen die geweld wat ons land teister," het skoolhoof Chrystal Pietersen-Grootboom gesê. "Die Woord sê ons mag nie doodmaak nie, ons moet mekaar lief hê met ons hele hart. Ons staan vandag op en sê stop die geweld, die moorde op vroue en kinders en boeliegedrag teen medeleerders, opvoeders, en ouers.
"Elkeen het 'n reg op beskerming en om veilig te voel en daarom sê ons genoeg is genoeg! Ons gaan nie meer toelaat dat kinders en vroue seergemaak en vermoor word nie. Ons staan op teen alles wat nie van die Vader af kom nie."
Kyk 'n video hieronder:
Die protesaksie is in samewerking met die polisie gereël. "Ons het verskeie skole genader en Voorwaarts was die eerste wat reageer het," het sers. Hans Busch, bestuurder van Sektor 1 gesê. "Ons hoop die ander skole sal ook aan die bewusmakingsprojek deelneem."
Hy het leerders gewaarsku dat boeliegedrag nie geduld sal word nie en dat die polisie teen leerders wat hulle daaraan skuldig maak, sal optree.
IN SHORT
Learners and teachers at Voorwaarts Primary added their voices to the growing protest against violence against women and children. Dressed in black, they held a peaceful protest at the school on Monday.
Leerders van Voorwaarts Primêr neem op die skoolterrein deel aan 'n vreedsame protesaksie teen geweld teen vroue en kinders.
Lees 'n vorige artikel hier: Skool maak stem dik teen geweld
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'