RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het by 'n afgetrede kaptein, wat landswyd in die polisiediens speurwerk gedoen het, gaan kers opsteek oor die windbuks-skietery in 'n buurt waar 'n hond met 'n koeël in sy hart leef omdat 'n operasie lewensgevaarlik kan wees.
Volgens die oud-polisielid wat verkies om anoniem te bly, sal die saak dalk nooit opgelos kan word nie.
Hy verduidelik die ingewikkeldheid en uitdagings waarmee sulke sake gepaard gaan. "Die gewone prosedure behels dat 'n klag van opsetlike saakbeskadiging of dieremishandeling aanhangig gemaak word. Dit is egter baie moeilik wanneer 'n windbuks ter sprake is. Eienaars het nie 'n vuurwapenlisensie nodig nie en weens die werking van dié geweer kan die koeëltjie nie met forensiese toetse met 'n windbuks en/of die eienaar daarvan verbind word om 'n oortreder te eien nie. Daar moet ooggetuies wees."
Volgens hom raak die saak meer gekompliseerd indien daar nie ooggetuies is nie. In daardie geval moet die ondersoekbeampte probeer om inligting in die omgewing in te win en leidrade op te volg om sodoende te probeer om 'n prima faci-saak te konstrueer.
"Indien die klaer wel vermoed wie die verdagte is, moet dit in die verklaring gestipuleer word. Dan kan die ondersoekbeampte 'n lasbrief bekom om die verdagte se woning te deursoek om sodoende vas te stel of daar wel so 'n wapen op die perseel is en om die verdagte te ondervra.
"In dié saak het die klaagster op hoorsê-bewyse gereageer. Drie verskillende bure van verskillende aangrensende erwe, het afsonderlik dieselfde verdagte geëien. Op grond van hul belofte om te getuig, het sy die klag by die polisie gaan lê. Slegs as daar voldoende bewyse bestaan, kan die verdagte in hegtenis geneem word."
In dié saak was daar egter nie voldoende bewyse nie. Die verdagte het onder meer aangevoer hy is 'n diereliefhebber en stry oor sy betrokkenheid. En die getuies wat beloof het om te getuig, het die klaagster laat weet hulle wil nie meer betrokke wees nie.
Volgens Riversdal-polisie se kommunikasiebeampte, sers Christiaan Jansen, word die saak egter nog deur die ondersoekbeampte, ao George ondersoek. "Hy sal hierdie week nog verklarings van getuies neem."
Intussen het inwoners van die buurt Pet Watch en Paddavlei Paraat gestig.
Hulle vergader binnekort met die voorsitter van Community Animal Rescue Society, Sandra Lotz om 'n plan van aksie te formuleer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'