STILBAAI NUUS - Die sirkel by die ingang van dié kusdorpie duskant die brug, nader vinnig voltooiing en sal waarskynlik klaar wees teen die tyd dat Suid-Kaap Forum op straat is.
Vir baie inwoners wat gewonder het of dit moontlik sou wees om 'n sirkel in die beperkte spasie wat daarvoor beskikbaar was, te bou was dit sekerlik 'n verrassing.
Sommige inwoners het egter reeds hul kommer op sosiale media uitgespreek oor die wysheid daarvan, omdat groot vragmotors nie hul draai daar sal kan maak nie.
Volgens ingeligtes sal die sirkel sterk genoeg wees vir 'n vragmotor om daaroor te ry.
Nog 'n bron van kommer is die klein parkeerspasie voor die Infokiosk voor die ingang.
Dié ruimte is blykbaar veronderstel om parkering aan twee voertuie te bied, maar dit sal twee klein voertuie moet wees.
Dit is onwaarskynlik dat 'n motor wat 'n karavaan of boot sleep, daar sal kan stilhou - en dit is juis vakansiegangers wat hoofsaaklik van hierdie inligting by die kiosk gebruik sal wil maak.
Die klein parkeerspasie voor die Infokiosk is 'n bron van kommer. Foto: Wilma Adamson
Die koerant het probeer om die aangewese kontrakteur te kontak, maar tot dusver sonder enige sukses.
Sodra verdere inligting in die verband bekend is, sal ons dit publiseer.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'