RIVERSDAL NUUS - 'n Seuntjie se hartroerende, goedversorgde gedenksteen langs die stegpad buite Riversdal is onwettig.
Die stegpad loop uit Hoofweg (Main Str) verby die Ou Tronk.
Kenthlan Albertyn is op 21 September 2019, toe hy net 10 was, op dié presiese plek waar die gedenksteen opgerig is doodgery, en sy ouers het daarna, glo met mondelinge goedkeuring en teen groot onkoste, die gedenksteen opgerig.
Suid-Kaap Forum het egter klagtes van padverbruikers ontvang omdat die gedenksteen volgens hulle te naby 'n draai in die pad is en motoriste se aandag mag aftrek.
'n Boer van die omgewing, wat verkies om anoniem te bly, het gesê hy en sy familie gebruik die pad gereeld en weet dus van die gedenksteen, maar sê niksvermoedende motoriste mag die pad byster raak as hulle probeer kyk wat dit is.
"Die monument is 3m x 3m, so dis relatief groot," het hy gesê. "Ek is tog baie jammer vir die ouers," het hy bygevoeg.
'n Ander persoon het gesê dit hou 'n gevaar in en kan 'n presedent skep. "Wat gaan gebeur wanneer almal wat geliefdes in 'n ongeluk aan die dood afstaan, 'n plekkie van herinnering langs die pad aanbring?"
30m van draai
Suid-Kaap Forum se Riversdal-korrespondent het die afstand gemeet van die draai tot by die gedenksteen. "Na ek om die draai gery het, is dit nog 30m reguit pad voor jy by die steen kom," het Henry Snyman gesê. "Die area om die gedenksteen is baie netjies versorg."
By navraag aan die departement van vervoer, het die hoofkommunikasiebeampte, Jandré Bakker bevestig dat die oprig van enige strukture binne die geproklameerde padreserwe sonder skriftelike goedkeuring onwettig is in terme van Padordonnansie 19 van 1976.
Die gedenksteen is 30m van die draai in die pad.
Diep verdriet
Kenthlan se ma, Irene, se trane het gevloei toe Suid-Kaap Forum haar besoek het en van die klagtes en ordonnansie verwittig het.
"Waarom krap hulle die verlede nou weer oop? Ons sukkel om ons kind se ontydige dood te verwerk en dis die enigste plek waar ons berusting kan vind," het sy huilend gesê.
Haar twee jong kindertjies, Idonay (8) en Heinorique (4), het styf teen hul ma gaan staan toe hulle sien hoe hartseer en ontsteld sy is.
"Ons gaan omtrent elke Sondag daarheen, want my kinders vra gereeld vir my om by hul boetie te gaan kuier," het sy bygevoeg. "Ons hoor ook niks van die saak wat oopgemaak is na die ongeluk nie en die betrokke persoon ry nog met dieselfde voertuig hier in Riversdal rond."
Irene Albertyn, Kenthlan (10) se ma en haar twee kinders, Heinorique en Idonay. Kenthlan is sowat drie jaar gelede op die stegpad doodgery. Foto's: Henry Snyman
Sensitiewe aangeleentheid
Bakker sê onwettige strukture sluit advertensieborde, grafstene en gedenkstene in. "Ons verstaan dat hierdie 'n sensitiewe aangeleentheid is, maar versoek die partye wat dit aangebring het om dit asseblief te verwyder."
Bakker sê indien dit nie gedoen word nie, mag dit verwyder word vir die rekening van die Albertyns.
"In verskeie dele het hierdie praktyk sulke afmetings aangeneem dat dit 'n probleem geraak het en verwyder moes word, soos by Victoriabaai by George en Voëlklip buite Heroldsbaai."
Die gemeenskap word herinner om nooit strukture op te rig binne die padreserwe, asook die 5m-boulyn, sonder goedkeuring nie.
Wel toestemming gekry
Volgens Irene se suster, Shahida Simons, het hulle wel toestemming by Eden-distriksmunisipaliteit gekry. "Ons het gevra dat hy (die amptenaar) dit op skrif sit, maar hy het gesê dis nie nodig nie. Hy het ook later na die gedenksteen gaan kyk en gesê dis netjies en dat daar geen probleem is nie."
Irene se pa, Paul Albertyn, het gesê hy het slegs die telefoonnommer van die man met wie hulle gepraat het. Hy wou, om die amptenaar te beskerm, dit egter nie aan die koerant verskaf nie.
Die gedenksteen langs die pad word uiters netjies gehou deur die Albertyn-gesin. Hulle besoek gereeld 'Boeta' se steen om met hom te gesels en vrede te vind. Foto's: Henry Snyman
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'