MELKHOUTFONTEIN NUUS - Kwaaddoeners het onlangs by Melkhoutfontein se begraafplaas toegeslaan en 'n paar vars grafte wat nog nie grafstene op het nie, gevandaliseer.
Van die blomme wat op die grafte was, is rondgegooi, kruise is uitgeruk en die hope grond is omgedolwe.
Suid-Kaap Forum het verlede week ook berig oor die ABET-dienssentrum wat op 'n gereelde grondslag gevandaliseer word en dat die personeel al moedeloos is oor al die skade.
In kommentaar het Hessequa-munisipaliteit gesê dat hulle bewus is van die voorval by die begraafplaas.
"Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, veroordeel hierdie kwaadwillige optrede ten sterkste en meld dat hierdie tipe gedrag etlike duisende rande se skade beloop, wat aan die einde van die dag van die belastingbetaler verhaal moet word.
Vandalisme is 'n misdaad, hetsy dit die skending van 'n graf of die beskadiging van eiendom is."
Personeel het al die grafte wat gevandaliseer was, reggestel en ook die families van die onderskeie grafte waar die kruise beskadig is, in kennis gestel vir die herstel van daarvan.
Die munisipaliteit het reeds voor hierdie voorval voorkomend begin optree deur die motortoegangshek te sluit en dit slegs tydens normale werksure vir die publiek oop te sluit.
Die begraafplaas word ook gedurende normale werksure gemonitor.
"Die munisipaliteit beskik egter nie oor die kapasiteit om permanente wagte by die lokale soos die Heidelberg ABET-dienssentrum/Kindersorg, die Business Hub, sportveld, ensomeer wat gereeld gevandaliseer word, aan te stel nie. Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om voorvalle van vandalisme onmiddellik by die polisie aan te meld sodat oortreders vervolg kan word."
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'