HESSEQUA NUUS - Voertuigeienaars het nou die geleentheid om hul sê te sê oor die instelling van 'n enkele registrasienommer vir die provinsie.
Hulle kan ook sommer sê wat hulle dink van die beplande verhoging in motorlisensiegeld.
Suid-Kaap Forum het verlede week berig dat die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke een nommerplaat vir die hele provinsie beoog. Dit geld reeds in die agt ander provinsies in die land.
Die stap word genoodsaak deur die groot aantal voertuie wat in Kaapstad en George geregistreer word. Die CAA-registrasienommer vir Kaapstad, wat in April vanjaar in gebruik geneem is, nader vinnig 100 000 registrasies. George se nuwe CAG-registrasienommer sal eersdaags in gebruik geneem word.
Dit is 'n tussentydse maatreël tot die publiek se mening ingewin is oor die enkele registrasienommer.
Onder die redes wat vir die enkele nommerplaat aangevoer word is die verwarring wat verskillende nommerplate van byvoorbeeld Kaapstad-munisipaliteit skep. Buiten CA en CAA is daar ook CEY, CF, CFM, CFR en CY-nommers. Sommige munisipaliteite deel 'n registrasienommer. Voertuigeienaars registreer soms hul voertuie op 'n ander plek as waar hulle woon, wat daartoe lei dat die betrokke munisipaliteit die inkomste uit lisensiegeld verbeur.
Dit skep ook verwarring op die NaTIS-stelsel wat die opsporing van voertuie vergemaklik.
Hulle moet terselfdertyd hul mening lug oor die beoogde verhoging van 4,5% in lisensiegeld. Dié geld word hoofsaaklik aangewend vir die onderhoud van paaie.
Lug jou mening skriftelik voor of op 13 Desember aan Shaldon.LeRoux@westerncape.gov.za te rig of faks na 021 483 2357.
Kom meer te wete op die departement se webtuiste by www.westerncape.gov.za/tpw
Lees 'n vorige berig: Say your say on Western Cape licence mark
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'