RIVERSDAL NUUS - Inwoners wat te diep in die bottel gekyk en in die openbaar verskyn het, het verlede week hul moses teëgekom.
Tydens 'n intensiewe misdaadvoorkomingsveldtog wat van 3 tot 5 Augustus in dié dorp van stapel gestuur is, is 77 persone wat dronk op straat was, in hegtenis geneem. Die fokus was hoofsaaklik op die misbruik van drank, dwelms en die wanbestuur van die AllPay-staatstoelae.
"Misbruik sal in 'onbruik' verander. Die feit dat mense hulle staatstoelae kan verloor omdat hulle dit misbruik, is 'n werklikheid," het sers. JM Spangenberg, verbonde aan die Langeberg K9, Mosselbaai gesê.
Die projek het Vrydag om 10:00 begin. Lede betrokke was konstt. Christiaan Zwiegelaar, Nicolaas Olckers, Sambo, Kampher, Johannes Olckers en Nita Olckers, onder leiding van Spangenberg.
Volgens Spangenberg was die objektief om eerstens die strate te fynkam vir diegene wat onder die invloed van drank en in besit van dwelms was. "Daar is niks fout met persone wat drank koop en dit verantwoordelik by hul woning gebruik nie. Dit word wel 'n groot probleem waar mense drank in die openbaar drink en daarna probeer om in hul besope toestand na hul huis te strompel. Dit sal nie geduld word nie. Die versuim om hierdie mense aan te spreek kan ander sosiale probleme skep omdat dit baie keer tot huishoudelike konflik lei, buite die voorkomingsgebied van die polisie."
'n Skokkende feit is dat bykans 31 van hierdie persone wat in hegtenis geneem is, ontvangers van Sassa-toelae is. "Dit is belangrik dat hierdie toelaag wat bedoel is vir die onderhoud van die persoon, in werklikheid vir die aankoop en misbruik van drank aangewend word."
Spangenberg rig 'n streng waarskuwing aan diegene wat hul skuldig sou maak aan die misbruik van dié toelae. 'n Proses is van stapel gestuur om hierdie persone te identifiseer, met die doel om hul toelae op te skort. 'n Administrateur kan aangestel of die toelae kan selfs in effek gestaak word.
Die impak van die inisiatief het 'n rimpeleffek op die dorp se misdaadstatistiek gehad. Geen inbrake, aanrandings of gesinsgeweldvoorvalle is vir hierdie tydperk aangemeld nie. Volgens Spangenberg sal hierdie optredes 'n maandelikse instelling word. Geen genade sal vir die misbruik van drank en dwelms getoon word nie.
Stasiebevelvoerder lt.kol. Delicia Isaacs het lede vir hul inisiatief en opoffering bedank. "Die betrokke lede het hul rusdae opgeoffer om 'n verskil in die gemeenskap te maak."
Lees 'n verwante artikel: Meeting over Sassa 'contempt of court'
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'