Gallery Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai se sakegemeenskap staan sterk en is gerat vir die nuwe uitdagings en aanpassings wat die Covid-19-pandemie wêreldwyd vereis.
"Dit is hoofsaaklik te danke aan goeie onderlinge verhoudings en samewerkings-ooreenkomste op plaaslike, munisipale en regeringsvlak," het Rachel Wall, wat eenparig as voorsitter herkies was tydens Stilbaai-sakekamer se algemene jaarvergadering op Donderdag, 27 Mei, gesê.
Ook die onvermydelike groei van die dorp kan danksy goeie en voortydige samewerking en inisiatiewe beplan en bestuur word om ekonomiese groei te stimuleer, sonder om die karakter en natuurlike skoonheid van die omgewing prys te gee.
In dié verband het die sakekamer reeds in Oktober 2019 'n inisiatief, Toekomsvisie vir Stilbaai, geloods. Dit het gevolg na gesprekvoering met voorsitters van plaaslike gemeenskapsorganisasies en plaaslike owerhede om 'n kollektiewe begrip van die toekomstige Stilbaai te skep.
Volgens Wall het die pandemie die ewolusie van sake-ondernemings versnel en aspekte soos digitale transformasie en fokus op die welstand van werknemers noodsaaklik gemaak vir sake-kontinuïteit. Die noodsaaklike rol wat die sakekamer speel om deur innoverende denke die belange van die sakegemeenskap te bevorder en 'n gerespekteerde en invloedryke stem te wees, is ook onteenseglik in dié tyd bewys.
Fotogalery: Stilbaai sakekamer jaarvergadering
'n Voorbeeld hiervan is die finansiële hulpfonds, wat danksy omvattende meningspeilings en onderhandelings, tussen die sakekamer en Hessequa-munisipaliteit vir besighede beding is wat weens die pandemie noustrop trek rakende huurgeld en munisipale tariewe.
Die sakekamer het ook sy jaarlikse fooi vir straatadvertensieborde verminder waar nodig.
Hoogtepunte die afgelope finansiële jaar sluit in
- ere-lidmaatskap is aan dr Daan Toerien, bekende afgetrede akademikus en navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat toegeken;
- kwartaallikse nuusbriewe is uitgebrei om voorsiening te maak vir sakewenke en kort artikels oor plaaslike sakeondernemings;
- lidmaatskap-sertifikate is uitgereik, asook 'n sakekamer-lidmaatskaplogo vir gebruik op webwerwe en Facebook-blaaie;
- die sakekamer se eie Facebookblad wat ook aan webwerwe en ander plaaslike sosialemediaplatforms gekoppel is;
- die gewilde Welkom-pakkieprojek waarmee besighede vakansiegangers in Desember verwelkom;
- die sakekamer spog nou met 'n lededal van 159 - 'n 11%-groei.
Hendrik Visser, direkteur van ontwikkelingsbeplanning by die munisipaliteit, het sake-eienaars aangemoedig om hulle te vergewis van nuwe munisipale regulasies rakende bougrense en die onderskeie soneringskemas om ook tuisbesighede te bedryf.
Van die 781 bouplanne wat in die 2020/21 finansiële boekjaar in Hessequa goedgekeur is, is sowat 80% in Stilbaai. Hy het die druk en aanpassings wat dit op die dorp se infrastruktuur plaas uitgelig en gesê Stilbaai groei nou van 'n tradisionele "aftreedorp" tot 'n dorp wat sy eie ekonomie vestig.
"Stilbaai se groei is onvermydelik, maar ons kan dit bestuur," het Wall afgesluit.
Die res van die nuwe bestuur
Sewe herkiesbare bestuurslede is weer aangestel, naamlik Francois Smit, Helene Strauss, Johan Kriel, Johan Kok (tesourier), Maarten Roode, Tertius Haak (onder-voorsitter) en Willie Delport.
Die vier nuwe aanstellings is Corné du Preez, Francois Theron, Jacques Hefer en René Haarhoff.
Stilbaai-sakekamer se nuwe bestuur. Agter, van links: Johan Kriel, Francois Smit, René Haarhoff, Maarten Roode, Jacques Hefer, Helene Strauss, Willie Delport, Corné du Preez en Francois Theron. Voor: Johan Kok, Rachel Wall en Tertius Haak. Foto: Elsa Wessels
Vorige artikel: Sakekamer groei ten spyte van uitdagings
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'