WES-KAAP NUUS - Die sakegemeenskap en die landboubedryf in die Wes-Kaap gaan koppe bymekaarsit oor die pad vorentoe. 'n Vergadering tussen senior bestuurslede van die AHi Wes-Kaap en Agri Wes-Kaap vind Vrydag in die Paarl plaas.
Dit volg na 'n onlangse werksessie van die AHi Wes-Kaap wat op Stilbaai gehou is. Die werksessie is deur onder meer lede van Agri Wes-Kaap bygewoon.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het by navraag bevestig dat die vergadering Vrydag in die Paarl plaasvind.
Cilliers het aan die George Herald gesê die werksessie op Stilbaai is deur verteenwoordigers van 16 sakekamers in die Tuinroete en Klein-Karoo bygewoon.
Tydens die geleentheid is gekyk hoe die sakegemeenskap en die landboubedryf kan saamwerk.
Cilliers het benadruk dat 'n sakekamer 'n belangrike rol speel in die ekonomiese groei van 'n dorp. Sakekamers kan nie in isolasie optree nie en moet vennootskappe sluit met byvoorbeeld die toerismebedryf, munisipaliteite, die informele sektor en ook die landbou.
"Ons wil kyk hoe die sakegemeenskap en die landbou kan saamwerk. Boerdery is 'n besigheid net soos enige sakeonderneming.
"Die verskil is net dat 'n boerdery buite 'n dorp is. 'n Boerdery is totaal afhanklik van die plaaslike ekonomie. 'n Boerdery lewer ook 'n bydrae tot die plaaslike ekonomie."
Volgens hom moet daar dus samewerking tussen die plaaslike ekonomie en die landbou plaasvind.
In beginsel is besluit dat samewerking sal plaasvind en Vrydag gaan gekyk word hoe dit tot uitvoering gebring kan word.
"Ons is nou in die praat-proses en Vrydag gaan ons kyk hoe om dit toe te pas. Een van die moontlikhede wat ondersoek word is dat bestuurslede van die plaaslike landbouverenigings op die bestuur van sakekamers gekoöpteer kan word.
"Daar is gemene delers soos byvoorbeeld die bekamping van misdaad en die opleiding van plaaswerkers."
Hy het gesê dit is belangrik dat dit toegepas word en nie net by praat gebly word nie. Die AHi Wes-Kaap sal as fasiliteerder optree tussen sakekamers wat by hom geaffilieer is en landbouverenigings.
Die een gaan nie die ander insluk nie. "Elkeen het nog sy rol en reg tot voortbestaan."
Daar moet in gedagte gehou word dat landbou in die stadium die grootste werkgewer in die Wes-Kaap is. "Dit het ook die grootste moontlikhede vir werkskepping."
Daar is verskeie moontlikhede waar 'n boerdery die ekonomie van 'n dorp kan aanvul. 'n Produk wat op 'n plaas geproduseer word kan na 'n dorp vervoer word en daar verwerk word. Dit kan help met werkskepping in 'n dorp.
Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het gesê daar is nood vir samewerking. Daar word gekyk hoe saamgewerk kan word en hoe dit toegepas kan word. "Dis vir ons belangrik dat dit goed gaan in dorpe."
Volgens hom sal daar nog 'n hele paar vergaderings plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'