Update
RIVERSDAL NUUS - Daar is hulp vir Saartjie.
Suid-Kaap Forum het in Vrydag, 6 Augustus se uitgawe berig oor die vrou wat met haar katjie onder 'n boom, iewers in die buitewyke van Riversdal moet bly omdat sy geen ander heenkome het nie.
Na die koerant dit onder Hessequa-munisipaliteit se aandag gebring het, het die munisipaliteit haar self besoek.
Sy is daarna na die departement maatskaplike ontwikkeling vergesel vir 'n assessering, asook bespreking van 'n werkswyse wat gevolg kan word, wat die hereniging van Saartjie met haar familie insluit.
'n Weldoener het die koerant van Saartjie vertel en ook na die plek geneem waar sy skuiling teen wind en weer gevind het.
Volgens Saartjie het sy op straat beland na haar man verongeluk het, haar blykbaar niks nagelaat het nie en sy nie die huur kon bekostig waar hulle gebly het nie.
Aanvanklik het sy eenkeer per week in iemand se tuin gewerk om kos te kan koop vir haar en haar katjie. Dié gesin het egter intussen verhuis en kon sy glo nog nie 'n ander werk kry nie.
Haar identiteitsboekie is boonop gesteel toe iemand haar beroof het.
Nog 'n barmhartige Samaritaan wat ook verkies om anoniem te bly, het 'n trommel met onder meer 'n eenmantentjie, dik baadjie, kombers en slaapsak aan Saartjie geskenk.
Hierdie skenking deur 'n barmhartige Samaritaan sal sorg dat Saartjie beslis warm sal kan slaap. Foto: Wilma Adamson
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'