Gallery
RIVERSDAL NUUS - Verwese, verlate, verstote...
Dit was die eerste gedagte wat by my opkom toe ek Saartjie sien. En dít in hierdie tyd waar ons almal iemand nodig het om op te steun, om ons deur hierdie pandemie en die ellende wat daarmee gepaardgaan, te help.
'n Weldoener het my van Saartjie vertel. Hy voorsien haar van kos en noodsaaklikhede, en het afgespreek dat hy my Maandag, 26 Julie self na haar neem, want sy bly onder 'n boom...
Ons moes ver in 'n beboste veld stap, iewers aan die buitewyke van Riversdal voor ons haar skuilplek bereik. Ek het gelukkig waterskoene in my motor gehad wat ek juis saamry vir plekke waar gewone skoene nie sal deug nie. Net toe ek begin wonder hoe ver ons nog moet loop, roep die weldoener na haar en kom sy uit die niet te voorskyn.
Sy is nie oud nie, maar ook nie meer jonk nie. Swaarkry is op haar gesig geëts. Sy het ons verwag, want haar weldoener, wat eendag toevallig op haar afgekom het toe hy met sy hond gaan stap het, het gesê hy gaan koerant toe - dalk kan ons help.
'n Klein katjie hardloop skielik skuins agter haar verby, dieper die bosse in. En toe eers sien ek die vrou se karige besittings onder 'n boom. Emmers waarin sy water gaan haal om haarself en haar klere te was. 'n Slaapsak in dik plastiek wat iemand geskenk het en waaronder sy kan lê wanneer dit reën. 'n Paar kledingstukke wat aan 'n tak hang om droog te word.
Tragedie
Eers toe die ys gebreek is en sy die versekering het dat haar skuilplek nie verklap sal word nie, vertel Saartjie haar hartseer verhaal. Sy en haar man, wat vir 'n kragvoorsiener gewerk het, het 'n huis vir R5 000 per maand gehuur.
Hy het 'n redelik goeie salaris verdien en hulle kon dit bekostig. Maar toe hy een naweek van die Kaap af op pad huis toe is, verongeluk hy. En blykbaar het hy alles aan sy ma bemaak. Sy is Kaap toe en Saartjie het met niks agtergebly nie.
Sy kon nie meer die huur bekostig nie en was gou op straat. Sy het nie kind of kraai nie en vir 'n geldjie het sy eenkeer per week in iemand se tuin gewerk. Dié gesin het egter intussen verhuis.
"Ek kon nog nie 'n ander werkie kry nie. As iemand net kan help met 'n werkie, dalk 'n kamertjie waar ek kan bly," sug sy moedeloos.
Foto galery: Saartjie het ons hulp nodig
Sy sê sy het 'n klein Bybeltjie waaruit sy soms lees en dan bid sy. Wanneer die honger knaag, loop sy en stompies optel in die woongebied, want dit help. En nee, sy gebruik nie drank of dwelms nie. Kietsie, haar katjie, is darem daar om die eensaamheid te verbreek.
Nog teëspoed
'n Man van Kwanokothula het haar eendag gesien en haar by haar skuilplek van al haar kos en besittings, soos haar FM-radio beroof. 'n Paar mense het van haar besittings vervang en sy het op 'n ander plek gaan skuil, maar hy het haar weer eendag gevind en probeer beroof.
Iemand wat toevallig vir haar 'n skenking afgelewer het, het hom op heterdaad betrap, waarna hy gevlug het.
Hoewel effens aan die maer kant, is Saartjie se kat, Kietsie goed versorg en deel sy al haar kos met hom.
Ondersteuning deur munisipaliteit
Riversdal beskik nie oor fasiliteite vir haweloses nie en mense soos Saartjie wat geen familie het nie, is aan weldoeners se genade oorgelaat.
Op Suid-Kaap Forum se navraag aan Hessequa-munisipaliteit het die woordvoerder, Didi Budricks gesê die raad skep van tyd tot tyd nooderwe vir hulpbehoewende persone wat aan die beleid voldoen.
"Die betrokke persoon moet by die behuisingskantoor aandoen sodat ons kan bepaal of sy al op die waglys vir 'n behuisingsgeleentheid is. Die behuisingpersoneel sal ook die persoon besoek waar sy haar tans bevind en die aangeleentheid diskreet en konfidensieel hanteer.
"Maatskaplike ontwikkeling sal daarna gekontak word, vir bespreking oor 'n moontlike werkswyse wat gevolg kan word en sal dit die hereniging met die betrokke vrou se familie insluit."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'