Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Roudiens is Vrydag 4 Augustus vanuit die NG Kerk Hartenbos vir 'n oudinwoner van Mosselbaai, Ruan van Papendorp (33) en 'n 10-jarige seun, Jean-Pierre (JP) van der Westhuizen gehou wat beide op Sondag 30 Julie in 'n botsing op die N2 duskant Albertinia dood is.
Ruan het vir etlike jare in Mosselbaai gewoon, maar het onlangs na Heidelberg verhuis waar hy vir SSK gewerk het. Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Ruan, sy vriendin Madele Oosthuizen, haar seun JP en hul drie honde, twee cocker spaniëls, Molly en Max en 'n worshond, Ody, om 17:00 in die rigting van hul woning op Heidelberg gery toe Ruan se Toyota Hilux-bakkie met 'n grys Ford Fiesta gebots het. Hulle het vroeër die dag by Ruan se ouers op Klipfontein, Vleesbaai gekuier.
Nooddienspersoneel het JP en Ruan op die toneel dood verklaar en Madele is vir kopbeserings behandel. Paramedici het Molly na Dana Bay Vets geneem, Max is op die toneel dood aangetref en Ody, wat van die toneel weggehardloop en 'n paar dae vermis was, is blykbaar opgespoor.
Polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag, maar volgens ooggetuies het die Toyota gerol nadat dit met die Ford gebots en Ruan beheer oor die bakkie verloor het. Die presiese oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Toeriste van Nederland, twee vroue en twee kinders was in die Ford Fiesta. Nie een van hulle is beseer of na die hospitaal geneem nie en slegs die voorkant van die motor is erg beskadig.
"Ons het seer en dit gaan nie goed met ons nie. Hoe verwerk 'n mens dit?" het Ruan se suster, Tersia van Papendorp (37), wat op Hartenbos woon, aan die Mossel Bay Advertiser gesê. "My pa vat dit baie erg. Ruan was sy alles. Madele het alles gesien gebeur. Sy het haar kind verloor."
Susi Kok, veearts van Dana Bay Vets het bevestig dat Molly by die praktyk aansterk en 'n plaat en pen in haar een been gekry het.
Klik hier vir 'n vorige artikel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'