Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Riversdal gemeenskapspolisieforum het ter ondersteuning van Riversdal Kindersorg en die ACVV maatskaplike dienste 'n Jeugdagprojek aangebied.
Twee groepe het onder toesig van Hessequa-verkeersdienste en die plaaslike polisie rommel in die strate in die omgewing van Riverville en Aloeridge opgetel.
"'n Vrolike atmosfeer het geheers soos kinders by lede van die GPF, buurtwagte en gemeenskapslede aangesluit het," vertel Harry Stroebel, voorsitter van die plaaslike GPF.
Fotogalery: Riversdal Jeugdagprojek
Die groepe het na die plein beweeg en is deur Stroebel verwelkom. Die belangrikheid van 'n skoon dorp en die voorkoming van rommelstrooiing is onder almal se aandag gebring.
Bianca Adams, wat in daardie stadium nog by Kindersorg betrokke was, het die kinders oor persoonlike veiligheid, boelies, dwelms en misdaad toegespreek. Sy het hulle aangemoedig om hul ideale na te streef en hul volle potensiaal te bereik.
Petra Stegman van die ACVV en ao Mias Oosthuizen het 'n poppekasvertoning aangebied, wat groot byval by die kinders gevind het. Die boodskap aan die kinders is dat hulle probleme by die welsynsdienste of polisie kan aanmeld en dat hulle hulp sal ontvang.
Die brandweer het 'n vertoning gelewer met die brandweerwa en die hantering van die waterslang.
'n Danskompetisie is gehou en het twee kinders met die beste passies 'n prys gewen.
Heerlike boereworsbroodjies en vrugtesappe is uitgedeel terwyl die nodige veilige spasie tussen die kinders gehandhaaf is.
Bestuurslede van die GPF het saam met buurtwaglede uit Sektor 1, 2 en 3 ter ondersteuning van die Jeugdagprojek deelgeneem en om hul toewyding tot 'n skoon en misdaadvrye dorp te beklemtoon. Van die ander rolspelers is ook op die foto.
Stroebel doen 'n beroep op al die rolspelers, soos die polisie, Hessequa-munisipaliteit gemeenskapsdienste, GPF, buurtwaglede en die jeug om saam te werk om misdaad te bestry en 'n veilige omgewing vir die jeug te skep.
Harry bedank al die individue en instansies wat bygedra het om van die projek 'n sukses te maak.
"Groot dank aan die stasiebevelvoerder en lede van Riversdal-polisiestasie wie die veiligheid van die jeug verseker, die munisipaliteit se departement van gemeenskapsdiens wat verkeersdienste en die brandweer insluit en vullisverwydering
in die tegniese department vir hul grootskaalse betrokkenheid," het Stroebel gesê.
" Hy het ook al hul borge vir die dag bedank, asook Kindersorg en ACVV vir die reëlings en die belangrike taak wat hulle onder die jeug verrig.
Sakke vol vullis is verwyder.
Vorige artikel: Riversdallers staan saam
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'