RIVERSDAL NUUS - 'n Oud-Riversdaller is tans landwyd in filmteaters te sien.
Morné Steyn vertolk die rol van Dawid Komoetie sr. in die nuwe filmweergawe van Fiela se kind.
Hoewel hy tussen produksies klas gee in teater-, dans- en uitvoeringstudies by die Universiteit van Kaapstad woon sy ouers nog op Riversdal en die oud-Das praat met groot deernis oor sy grootwordjare in dié dorp.
Suid-Kaap Forum het hom met vrae gepeper wat hy geduldig beantwoord het.
Waarom is dit vir jou lekker om 'n akteur te wees?
"(Lag) Die lekker in akteur wees is wat my laat lag. Ek dink dis 'n komplekse proses. Tog vind ek dat dit betekenisvol is omdat dit my geleer het hoe om 'n meer intieme verhouding met my eie menswees te hê. As akteur moet jy altyd, maar altyd met die karakter empatie hê. Dit werk teen jou as jy jou karakter oordeel of met negatiwiteit benader. Die proses kan ook in die werklikheid gebruik word. Ek dink hoe meer mense ons kan leer om beter asem te haal en effektief te luister en kommunikeer, hoe beter sal ons met mekaar skakel."
Is daar herinneringe uit jou kinderdae wat jou begeerte om toneel te speel gehelp vorm het?
"Beslis. Ek het 'n groot deel van my lewe by my ouma grootgeword. Sy's nou 96, maar in haar jonger dae het sy 'n ongelooflike liefde vir radiostories gehad. Ek onthou hoe ek altyd na haar gekyk het terwyl sy met toe oë gesit en luister het en gewonder het: 'Jislaaik ouma, is dit dan so lekker?' Iets daarvan het 'n merk op my gelaat en my nuuskierigheid geprikkel. Ek begryp nou dat stories magtig is en 'n integrale deel van mense se lewens vorm. En dis iets wat wonderlik is van my herinneringe aan Riversdal. Dis mense met 'n unieke, eiesoortige manier om taal te gebruik en te hanteer om stories vertel. Stories vertel is toneelspel en geloofwaardige vertolking van 'n storie kan lei tot die skep van 'n kultuur. Ek glo en onthou met liefde en heimwee hoe dié unieke mondelinge kultuur bygedra het tot die vorming van my waardesisteem."
Is jy op skool en deur jou ouers aangemoedig?
"My ouers het my beslis aangemoedig. My ma het selfs 'n paar keer in passiespele opgetree. Ek het al gesien dat sy daarvan hou om lekker toneel te speel."
Word na jou mening genoeg in Hessequa gedoen om jong toneelspelers aan te moedig?
"Ek dink nie so nie, want ek dink nie daar is baie organisasies wat aktief kuns en kultuur bevorder nie. Ek droom daarvan om eendag terug te kom Riversdal toe om 'n projek of organisasie te begin waar ek deur toneelspel en ander vorme van kuns aan jong mense 'n platform om ekspressief te wees kan gee."
Het jy 'n gunsteling plek op Riversdal?
"Elke keer as ek in die dorp kom is daar iets nuut en dis opwindend. Ek ken nie al die plekke nie. Ek is mal oor die reuke van kruie en beesmis. Die oop lug en natuurprag van Riversdal en omliggende dorpe is so verfrissend en lekker."
Waarom juis Fiela se kind?
"Die verhaal is 'n spieëlbeeld wat ons uitnooi om eerlike vrae aan onsself te vra. In 2019 beleef ek dat daar steeds te dikwels klem op ras as bepalende faktor van menswees gelê word. Die belangrike vraag is hoe ons almal saam die geweld en historiese impak kan herdink om met die proses van menswaardigheid vorentoe te beweeg. Ons kan almal iets doen aan hierdie historiese euwel."
Lees 'n vorige artikel hier: Oud-Das lééf sy passie vir toneelspeel
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'