RIVERSDAL NUUS - Inwoners van Riversdal, maar ook die res van die Hessequa-streek word gevra om die plaaslike hospitaal slegs in 'n noodgeval te besoek, omdat die hospitaal tans onder druk is.
"Dit is as gevolg van 'n toename in hospitalisasies van Covid-19, maar ook ander siektetoestande," verduidelik Nadia Ferreira, mediawoordvoerder van die Wes-Kaap departement van gesondheid: Tuinroete en Sentraal-Karoo.
Sy vra dat persone hul naaste kliniek besoek vir nie-lewensbedreigende toestande, wat die druk op die hospitaal sal verlig. "Pasiënte word versoek om 'n afspraak te maak indien dit moontlik is," vra sy.
Covid-19-toetsing
Ferreira bring die volgende belangrike punte onder die gemeenskap se aandag:
- Indien jy vir Covid-19 getoets is, moet jy jouself onder kwarantyn plaas (weg van ander mense bly) tot jy jou uitslae gekry het;
- Nabye kontakte moet in kwarantyn vir 10 dae bly. Indien jy simptome ontwikkel, moet jy jou laat toets;
- Indien jy siek voel moet jy tuis bly en met jou plaaslike kliniek reël om tydens kliniek ure getoets te word;
- Laat jou toets slegs indien jy Covid-19-simptome ervaar;
- Moenie die kliniek of hospitaal vir navrae oor uitslae besoek nie. Bly tuis tot jy 'n SMS of oproep ontvang;
Vir meer inligting kan die Wes-Kaapse regering Covid-19-blitslyn gekontak word (0860 142 142).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'