Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Bekende inwoner van die dorp en reeds legende in sy bedryf het weereens 'n gesogte toekenning vir sy werk ontvang.
Christiaan de Swardt, ook bekend as CJ die loslit DJ, is vanjaar met 'n melodie-toekenning deur IFM-radio, Klub Melodie en Kiewiet Records vereer vir sy jarelange beriggewing en ondersteuning aan Suid-Afrikaanse Countrymusiek.
Hy het nie meer hangplek vir al sy sertifikate nie en die CD's is tot hoog teen sy mure in netjiese rye gepak. "Ek luister eers vier keer na 'n CD voor ek enigsins 'n mening kan vorm," vertel hy.
De Swardt skryf resensies oor verskeie onderwerpe, maar onder andere oor musiek vir die Vrouekeur. Omdat hy van jongs af 'n liefde vir die teater en toneelspel het, skryf hy selfs hieroor resensies. Kyk uit vir hom by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees. "Ek moet 'n oorsig van 'n paar toneelstukke skryf, maar vanjaar gaan ek slegs dramas kyk."
Sedert 2000 doen hy vryskutwerk. Op skool het hy in die kerk- en skoolkoor gesing. Hy was net 12-jaar oud toe hy sy eerste kortverhaal, Die gevaarlike pakkie, geskryf het. "Dit is gepubliseer en ek het R4 vir die stuk gekry. In 1972 was dit baie geld."
Die kospotte is gereeld in sy huis aan die kook, veral wanneer hy heerlike sop en bredies maak. "Gedurende my studentejare het ek na die telefoonhokkie toe gegaan, na die program, Rek die Rand ingebel en my resepte gelees wat ek die vorige aand uitgetoets het. Só het ek my rand gerek, omdat hulle my vir elke resep wat ek gegee het, betaal het."
Sy liefde vir diere spreek vanself en een van sy groot drome is om 'n boek te skryf. Om beter te verstaan waardeur 'n sanger moet worstel terwyl hulle opnames doen, het hy selfs sy eie album vrygestel. Die Loslit Album is in 2000 op die rakke geplaas.
Buiten sy liefde vir musiek, kuns en die teater, doen hy graag houtwerk.
Lees 'n vorige artikel hier: CJ die Loslit DJ doen dit weer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'