Update
HESSEQUA NUUS - Na sy aanwysing Saterdag, 28 Augustus as die DA se burgemeesterskandidaat vir Hessequa vir die volgende plaaslike verkiesing, het burgemeester Grant Riddles gesê dit sal vir hom en die ganse DA-span 'n voorreg wees om die gemeenskap te dien vir nog 'n termyn.
"Sien u by die stembus," het Riddles gesê, wat op 24 Oktober - net drie dae voor die voorlopige verkiesingsdatum - sy 40ste verjaarsdag vier.
Die verkiesing op 27 Oktober hang egter in die weegskaal, aangesien die ANC en verskeie politieke partye, sowel as die Onafhanklike Verkiesingskommissie, wil hê dat dit eers volgende jaar in Februarie gehou word. Die DA dring egter daarop aan dat die verkiesing in Oktober voortgaan.
LEES: Candidates ready to roll up sleeves
Die grondwetlike hof moet nou beslis oor die datum en die groep wat wil hê dit moet skuif na 2022 sê die Covid-19 pandemie sal mense volgende maand weghou van die stembus, terwyl diegene wat wil hê die verkiesing moet wel vanjaar gehou word, aanvoer dat dit Suid-Afrika se grondwetlike beginsels en demokrasie sal skaad as die datum aangepas word.
Riddles nie 'n raaisel
Riddles is op 24 Oktober 1981 op Riversdal gebore en het in Melkhoutfontein, sowat 7 km van Stilbaai, grootgeword.
Hy woon steeds op Stilbaai. Riddles is reeds vyf jaar in die uitvoerende burge-meesterstoel.
Hy is in 2016 as Hessequa-burgemeester verkies nadat hy sedert 2006 by die munisipaliteit se departement van finansies gewerk het. Hy was vir drie jaar die burgemeester van 'n koalisieregering, maar in die 2019-tussenverkiesing het die DA 'n meerderheid in die Hessequa-raad verower.
In sy aanvaardingstoespraak Saterdag, het Riddles gesê die munisipaliteit het onder sy leierskap sewe skoon oudits ontvang en is tans een van die top 20 munisipaliteite in die land.
Riddles se persoonlike leuse is: "Bly positief en glo in jouself sodat jy vooruitgang kan maak."
Vorige artikel: Burgemeester Riddles sien uit na nog 'n termyn
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'