Die groep 'gyronauts' het by die plaaslike vliegveld geland vir brandstof en het daarna verder vertrek na Mosselbaai. Plaaslike vlieg entoesiaste was vroegoggend Saterdag op die vliegveld om die groep renoster aktiviste te verwelkom.
Die groep is besig om letterlik langs die grense van Suid-Afrika te vlieg om bewusmaking te skep oor renosterstroping, asook om fondse in te samel vir anti-stroping inisiatiewe in die land se nasionale parke. Meer as 230 renosters is vanjaar in die land gestroop; 167 in die Kruger Wildtuin alleen. Hulle het op 10 April vanaf die internasionale grens met Mosambiek in die Nwanetsi area van die Kruger Nasionale Park vertrek. Die area is tans 'n warmkol vir renosterstroping. Die groep sal oor verskeie van die land se nasionale parke vlieg (Kruger Nasionale Park, Mapungubwe, Kgalagadi, Richterveld, Wes-Kus, Tafelberg, Agulhas, Tuinroete en Addo).
Anti-stroping
Soos reeds genoem, renosterstroping statistieke is skokkend, meer as 2 300 tot op hede hierdie jaar. In 2010 is daar 33 renosters gestroop en in 2011 het die getal gestyg na 440. In 2012 het dit nie beter gegaan nie met 'n skokkende statistiek van 668 renosters wat gestroop is vir hul horings. Die horings word op 'n brutale manier afgekap wat veroorsaak dat die renoster óf vrek weens die dwelms waarmee hul geskiet word, óf deur geskiet te word.
Renosters wat op 'n erge manier vrek weens bloedverlies of die aard van hul wonde is algemeen in koerant opskrifte. Tans is spesiale veldwagters verantwoordelik om nasionale parke te patroleer vir strikke asook stropers. 'Gyro's for rhino's' is juis ten doel om broodnodige fondse in te samel om die veldwagters se werk te vergemaklik. Die nodige toerusting word aangekoop wat insluit rugsakke en tente, GPS-toestelle, nagsig toerusting vir beide die veldwagters asook vir hul wapens.
Van der Meulen noem dat die publiek aangemoedig word deur die 'gyronauts' om die saak te ondersteun deur 'n skenking te maak aan die SANParks anti-stroping inisiatief. Tans is die uitdaging dat 'n rand vir elke kilometer van die 6 500 kilometers geskenk word wat die 'gyronauts' vlieg.
Donasies aan: Sanparks Honorary rangers, Nedbank tak nr: 158550, rekening nr. 1585 392 448, verwysing CS gyrocopter.

Tom van der Meulen en Marcel van der Merwe (beide Hoedspruit), André Coetzee en Karin Coetzee (beide Orania), Christo Otto (Sterkspruit, afwesig), Ashley Whittfield (Kroonstad), Kieth Mcloed en Liesl Ebersohn (beide Bloemfontein). Foto: Johan Botha.