Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Kommerwekkende toename in gevalle van hondesiekte (distemper) en katgriep (parvo) kom in die Hessequa-streek voor.
Sandra Lotz van Community Animal Rescue Society (CARS) sê verskeie jong honde is reeds aan dié hoogs aansteeklike, dodelike siekte dood.
Volgens dr. Tina Kaldenberg is dit meestal jong hondjies van agt tot 12 weke oud wat die vatbaarste is, maar ouer honde waarvan die inentings nie op datum is nie, kan ook die siekte opdoen.
Albei die siektes word deur direkte kontak tussen honde oorgedra. Die virusse word ook deur middel van klere en skoene oorgedra en deur vlieë versprei.
Simptome
Hondesiekte se simptome kom met verkouesimptome ooreen wat met 'n loopneus, nies, hoes en afskeiding van die oë gepaardgaan. Naarheid en diarree volg.
Die hond raak lusteloos en wil nie eet of water drink nie. Namate die siekte vererger, word die senustelsel aangetas wat spiersametrekkings en stuiptrekkings tot gevolg het.
By katgriep raak die dier lusteloos en hou op eet en drink. Erge braking en bloederige diarree kom voor en die kat ontwater vinnig. Albei siektes verg intensiewe ondersteunende behandeling met antibiotika, teennaarmiddels, binneaarse drup en voedingsondersteuning.
Voorkomende optrede
Koop slegs hondjies van geregistreerde telers waarvan die ma ingeënt is en die babahondjies reeds een inenting en ontwurming ontvang het. Een inenting verskaf egter nie voldoende immuniteit nie en opvolg-inentings is nodig.
Indien die hondjie nog nie inentings gehad het wanneer dit van eienaar verwissel nie is dit noodsaaklik om dit onmiddellik te laat ondersoek en met die inentings en ontwurmingsbehandeling te begin.
"'n Hondjie moet 'n kursus van drie inentings voltooi voor sy liggaam genoeg immuniteit opgebou het om teen die virus te kan veg," beklemtoon Kaldenberg.
Dis ook belangrik dat die hond in 'n skoon omgewing aangehou word; die mis moet daagliks verwyder word.
Jong hondjies moet eenkant gehou word en kontak met ander honde of mense moet vermy word tot al die inentings na 16 weke afgehandel is.
Lees 'n vorige artikel hier: Hondesiekte in Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'