Belangrike aspekte is bespreek en verskeie gassprekers het eerstehandse inligting oor belangrike sake aan die vergadering oorgedra.
Opkapping- en herstelprogram van distrikspaaie:
Mnr. Anton Steenkamp van die distriks padowerheid het die opknappings- en herstelprogram van distrikspaaie in die landelike gebied verduidelik. Daar is ook 'n uitnodiging gerig dat skade aan landelike paaie direk aan mnr. Keith Prins op Riversdal gerapporteer kan word en dat dit van groot waarde is indien die padnommer wat langs die paaie aangebring is, ook vermeld kan word om spoedige reaksie te verseker.
Kontrole vir voëlgriep opgehef:
Dr. John Grewar van die Wes-Kaap departement van landbou by Elsenburg het bevestig dat die afgebakende kontrole area vir voëlgriep nou opgehef is. Dit was nodig om in die Hessequa area op drie plase volstruise uit te slag om die verspreiding van die siekte te bekamp, maar dat dit nie nodig was om verdere drastiese maatreëls in plek te stel nie. Daar is nie nou 'n gevaar dat perdesiekte versprei sal word nie en geen onmiddellike optrede is nodig nie.
Konsep operasionele plan vir brandseisoen:
Mnr. Lester Smit, hoof van die brandweerdiens in Hessequa het 'n konsep operasionele plan vir die brandseisoen verduidelik. Dit is belangrik vir die boere om daarop te let dat geen permitte in hierdie hoë risikotyd van November tot April sonder deeglike konsultasie toegestaan sal word nie. Daar sal ook verhoogde sigbaarheid van die brandweer gedurende die feesseisoen op die N2 wees. Mnr. Wouter Jacobs van Eden rampbestuur het ook die weerstoestande en die verwagte seisoenale weervoorspelling van die Suid-Afrikaanse weerdiens aan die adviesforum verduidelik. Normale weersomstandighede vir die tydperk November tot Januarie word in die vooruitsig gestel.
Ontruimings- en noodplanne:
Alle skole en ouetehuise wat nog nie gebeurlikheidsplanne of ontruimings- en noodplanne aan mnr. Frikkie Muller, waarnemende hoof, rampbestuur verskaf het nie word versoek om met hom in verbinding te tree sodat hy u daarin behulpsaam kan wees.

Op die foto verskyn die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel; die uitvoerende onder-burgemeester, rdl. Julian Mekeur; ander raadslede en amptenare van die Hessequa munisipaliteit saam met van die sprekers en ander lede van die Ramp Advies Forum.