RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-raad het 'met erns' van die inhoud van die versoekskrif wat tydens 'n protesaksie oorhandig is, kennis geneem.
Die versoekskrif waarin inwoners huise eis, is op 6 September aan die burgemeester Grant Riddles oorhandig.
By navraag het Johan Jacobs, munisipale bestuurder gesê: "Die uitvoerende burgemeesterskomitee (UBK) het die versoekskrif wat van 'n groep inwoners ontvang is, tydens 'n spesiale vergadering op 11 September oorweeg en met erns van die inhoud rakende behuisingsnood kennis geneem.
"Die raad het homself weereens verbind tot die voorsiening van bekostigbare behuising binne die provinsiale en nasionale riglyne en afhangende van die beskikbaarheid van fondse."
Tydens 'n werksessie op 25 September wat deur al 17 raadslede bygewoon is, is "gekyk na nooderwe, beskikbaarheid van grond, bekostigbaarheid van dienste, die behuisingspyplyn en alle relevante behuisingsaspekte."
Volgens Jacobs sal 'n verdere verslag in die verband aan Oktober se portefeuljekomiteevergadering voorgelê word. Die volledige UBK-besluit is aan die organiseerders van die optog voorsien.
Volgens Sibusisu Phongolo, voorsitter van die behuisingskomitee en woordvoerder vir wyke 6, 7 en 8 wat die optog gereël het, was die doel van die protesaksie om die munisipaliteit te dwing om op die dringende versoek van inwoners wat baie jare lank tevergeefs vir huise wag, te reageer. "Ons het al hoe lank terug vir huise aansoek gedoen en ons wag steeds vir antwoorde," het hy tydens die protesoptog gesê.
Phongolo het nie op 'n versoek om kommentaar te lewer, reageer nie.
Sibusiso Phongolo, organiseerder van die optog. Foto’s: Tisha Steyn
Lees vorige berigte:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'