HESSEQUA NUUS - Nie eers die ongerief en pyn van 'n gombol (gumboil) kon die jong Eljonay Vaaltyn van 'n oorwinning op die atletiekbaan weerhou nie.
Eljonay, 'n graad 3-leerder by De Waalville Primêre skool het in Februarie aan die Eden-atletiekkampioenskap op Oudtshoorn deelgeneem.
Volgens Vennito van Niekerk, onderwyser en afrigter het Eljonay aan die 1 200m vir meisies deelgeneem en het sy spreekwoordelik "die bul by die horings gepak" terwyl sy baie pyn verduur het.
"Sy was so 50 tot 60 meter agter die voorloper met die ingang van die laaste rondte, toe skop die pyn in en sit sy alles in, wat tot die soete smaak van oorwinning gelei het," het Van Niekerk opgewonde vertel.
Hoewel die pyn seker ondraaglik moes wees, het sy nog kans gesien om 'n foto te laat neem.
Dié plaasdogter se besonderse uithouvermoë is vir hom persoonlik 'n groot inspirasie om soggens op te staan en elke skooldag met nuwe moed aan te pak.
"Sy moet soggens 'n paar kilometers loop om die bus skool toe te haal. Dit vorm sommer deel van haar oefenprogram, omdat sy nie smiddae saam met haar mede-atlete kan oefen nie."
Hy vertel dat Eljonay juis die Saterdagoggend in die donkerte moes drafstap om betyds te wees vir die bus om 04:30.
Eljonay (1 200m), Emilano Adams (hoogspring en 150m), Ciarah September (diskus) en Nickyoe Gelderbloem (hoogspring) het ook hul skool en streek tydens die Wes-Kaap atletiekkamioenskap in die Paarl op 12 Februarie verteenwoordig.Die atlete het De Waalville by die Eden-atletiekkampioenskap op Oudtshoorn verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'