Update
STILBAAI NUUS - Besoekers en vakansiegangers kan na 'n heerlike proegeleentheid uitsien.
Die vierde agtereenvolgende Craft Beer, Gin & Wine Tasting Expo wat gedurende die eerste skoolvakansie van die jaar in dié kusdorp aangebied word, vind vanjaar op Woensdag 27 en Donderdag 28 Maart in die gemeenskapsaal plaas.
'n Totaal van 21 wynplase sal 'n verskeidenheid van 131 wyne beskikbaar hê, terwyl 'n totaal van nege boetiekgins en 17 boetiekbiere ook vir proe aangebied sal word.
Baleia-wyne, wat in die Vermaaklikheid-omgewing verbou word en waarvan die kelders by Riversdal geleë is, verteenwoordig die Hessequa-streek terwyl Jakkalsvlei-wyne van die Herbertsdale-omgewing ook hul wyne sal uitstal.
Uitstekende wyne van sover as Calitzdorp in die Klein-Karoo, die Bredasdorp- en Elim-omgewing, Overberg en Hermanus, die Robertson- en Breederiviervallei, Stellenbosch en die Kaap sal vir proe en koop beskikbaar wees. Heelwat van dié wyne het nasionale toekennings verwerf en sommige wyne, soos Flying Cloud, waarvan slegs vier vaatjies wyne jaarliks vervaardig word, is nie geredelik in die publiek beskikbaar nie. Met boetiekgin wat steeds uiters gewild is, kan ekspo-gangers nou eers proe voor hulle aankope doen, terwyl die boetiekbierbrouers wat na die ekspo genooi is, se biere van die beste in die land is.
Kaas- en olyfprodukte wat plaaslik vervaardig word, sal ook beskikbaar wees.
Dié ekspo word jaarliks deur Stilbaai Kelders aangebied en met kaartfasiliteite wat by die ekspo beskikbaar is, is aankope by die geleentheid gerieflik.
Toegang sluit 'n proeglas in, asook 'n boekie met al die nodige inligting oor die uitstallers se produkte.
Besoek www.mystilbaai.co.za vir meer inligting of skakel Adolf Botes by 082 337 6286.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai gereed vir lekker proe
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'