HEIDELBERG NUUS - Die verval en snelle agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Poskantoor is een van talle hartseerverhale van hoogs funksionele staatsentiteite, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en Transnet, wat deur die ANC-beheerde regime tot in die afgrond in bestuur is.
Van die eens trotse nasionale poskantoor bly daar nog net hier en daar kantore oor.
Baie kleiner takkantore is reeds gesluit en grootskeepse afleggings staar die personeel in die gesig. Posaflewering op kleiner dorpe en stede het tot stilstand gekners. Die pos hoop net op by dié kantore.
'n Reusagtige 68% van uitgawes gaan aan salarisse wat die hoofekonoom van die Efficient-groep, Dawie Roodt, onlangs beskryf het as "'n totale bankrotspul met te veel werkers en onkostes sonder dat doeltreffende diens gelewer word."
Ten spyte van al die gruverhale van skokkende landsbestuur, is daar steeds poskantoorwerkers wat hul bes probeer om water uit die bodem van dié sinkende skip te skep.
Suid-Kaap Forum het onlangs berig oor die Stilbaai-poskantoor wat wel gesluit is, glo weens wanbetaling van hul elektrisiteitsrekening, maar waar twee vroue steeds die pos sorteer en inwoners inlig dat daar vir hulle pos wag.
Nou het nog so 'n juweel in Heidelberg uitgespring. 'n Anonieme inwoner bel verlede Vrydag met die mooi storie van die posmeester, Braam Boonzaaier, wat met 'n possak oor sy skouer loop en pos aflewer. Praat nou van die spreekwoordelike ekstra tree gee met 'n swaard wat oor jou kop hang.
Toe hy stilhou en by Braam uitvis wat aangaan, sê hy die persoon wat veronderstel is om pos af te lewer, se voete is seer.
"En aangesien dit al weer beurtkrag is en ek niks op kantoor kan doen nie, het ek besluit om die pad te vat met die possak en dit by die inwoners se huise te gaan aflewer."
Dis mense soos Braam Boonzaaier wat die poskantoor nodig het om dié staatsentiteit weer 'n mate van aansien te gee. Mense soos Braam wat op 'n beskeie manier help om 'n verskil te kan maak. Ongelukkig is sy soort dun gesaai.
Mens kan maar net sê: navolgenswaardig. Knap gedaan meneer die posmeester. Hopelik steek jy ander aan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'