HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-polisie is baie trots op een van hulle lede wat nie vir ‘n oomblik gehuiwer het om iemand anders se lewe te red nie.
Sers Peter Rossouw en sy kollega, sers Gordon Ntonzini, was Saterdagmiddag, 26 Februarie op pad terug van ‘n klagte op ‘n plaas toe hulle deur ‘n jong seun geroep word om stil te hou.
Die seun het aan hulle genoem dat ‘n vrou in die plaasdam besig is om te verdrink.
Volgens Rossouw het hy hom na die dam op die plaas Brakfontein gehaas en onmiddellik ingespring toe hy sien dat dit wel iemand in die slymmerige water is.
Terwyl hy na die dam gehardloop het, het Ntonzini die ambulansdienste geskakel.
“Ek het net die vrou se arm onder die water gesien en met klere en al in die water gespring sonder om twee keer aan my eie veiligheid te dink,” het Rossouw beskeie vertel.
Sers Imorgene Hendricks, plaaslike polisiekommunikasiebeampte het aan Suid-Kaap Forum gesê die slagoffer is ‘n 48-jarige geestelik gestremde vrou. “Sy is per ambulans na Riversdal-hospitaal vervoer waar sy ondersoek en na behandeling ontslaan is.”
Dit is onbekend hoe die vrou in die plaasdam beland het.
Sers Peter Rossouw is besig om die vrou na die wal te bring.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'