RIVERSDAL NUUS - Karlo Truter, gr. 11-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale het onlangs 'n Podiumpret-vlerk ontvang vir sy elektroniese motiveringstoespraak.
Karlo het die toespraak met die onderwerp, "Selfmoord is nie 'n opsie nie," op spesiale versoek deur Podiumpret ingestuur. Dit is die enigste nasionale kompetisie wat erkenning aan sprekers gee wat uitmuntend presteer gedurende hulle skoolloopbaan.
Hierdie toekenning is gebaseer op prestasies as leier, sowel as tydens kompetisies. "Ons begelei jong sprekers om 'n verskil te maak in die samelewing met hul toesprake," verduidelik Carolina van der Westhuizen, eienaar van Podiumpret.
Die vier beoordelaars wat na Karlo se toespraak geluister het in die nasionale halfeind-, asook eindronde was dit eens: "Dis 'n toespraak wat aan ons harte raak."
Twee ouerpare binne een van die beoordelaars in die vriendekring het tieners aan selfdood afgestaan, asook 'n derde ouerpaar, waarvan die seun se poging onsuksesvol was.
Met die skriftelike toestemming van Karlo en sy ouers, sal Podiumpret hierdie toespraak in elektroniese formaat beskikbaar stel op aanvraag van skoolhoofde en beheerliggaamlede. 'n Versoek is reeds van 'n skool ontvang na aanleiding van die onlangse selfdood van 'n gr. 8-leerder in Pretoria.
Hy het sy vlerke met die volgende boodskap ontvang: "Jy is 'n spreker wat volwassenheid bereik het. Gaan. Vlieg hoog. Maak 'n verskil."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'