Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Annatjie Venter se liefde vir perde het begin nadat sy geweldige verwerping van haar pa ervaar het.
Sy het reeds as kind met perde kennis gemaak en spog met ’n foto uit een van haar albums waar sy as vierjarige op ’n volgroeide perd sit.
Die album is vol foto’s met perde waarvan sy óf die eienaar was, óf gered óf help makmaak het.
“Ek hou nie daarvan om te sê ek het ’n perd ingebreek nie, want ek breek nie ’n perd nie. Ek wen ’n perd se vertroue en sal nie opklim voor die perd my nie ten volle vertrou nie. Die oomblik wanneer ’n perd jou vertrou loop die trane. Ek kry eintlik koue rillings,” vertel Venter.
Haar liefde vir alle diere spreek vanself. Dit is egter ’n hartseer verhaal waarom sy dit so baie geniet om diere se vertroue te wen en perde te red. “Dit voel vir my of ek iets reg doen in die lewe en diere sal jou nooit verwerp nie. Ek ervaar aanvaarding wanneer ek tussen my diere is.”
Sy was 19 jaar oud toe sy selfdood probeer het omdat die seer en verwerping te erg vir haar geword het. Sy was vir drie dae in ’n koma en het haar geheue deels verloor. “Dit is nie uit my eie krag nie, maar deur die Vader se krag dat ek alles kon oorkom en mens en dier kan help. Die Here het vir my gesê dat dit nog nie my tyd is om te sterf nie en al moet ek afhanklik van ander mense wees, sal Hy my red. Dit was my grootste vrees - om afhanklik van mense te wees.”
Sy glo dat die Heilige Gees deur haar werk en vertel wat al gebeur het wanneer haar perd losbreek: “Ek het nie ’n selfoon by my nie en kan nie ’n boodskap kry of iemand bel nie. ’n Stem sê vir my ek moet gaan kyk my perd het uitgebreek, en dan is dit so. Ek kon die paar kere wat my perd uitgekom het, haar elke keer terugkry.”
Buiten dat sy herhaaldelik as kind en jong vrou seerkry ervaar het, is sy te vroeg gebore. Sy is op sewe maande gebore en is te veel suurstof in die broeikas gegee.
Dít het haar brein-oog koördinasie aangetas. Sy sukkel ook met balans en val maklik, maar sodra sy op ’n perd klim, is sy vry. “Na my hele selfdood- episode het die perde met hulle ‘genesing’ met my begin.
Al het ek nog altyd met perde gewerk, het ek toe eers agtergekom hoe hulle ’n mens kan genees.
Terwyl ek baie emosionele seer gehad het, was dit my redding om met perde te werk.
“Liefde genees en baie mense klim net op ’n perd en ry. Hulle word dan menssku en dit verg baie aandag en liefde om dan ’n perd se vertroue te wen.”
Venter help gereeld mense omdat sy nie kan sien dat iemand anders swaarder as sy kry nie. Haar droom is om hulle daarvan bewus te maak dat ’n perd jou met jou probleme kan help.
Kyk 'n video hieronder:
Annatjie kruip tussen die perd se bene deur om te wys hoe baie hulle mekaar vertrou. Sy is glad nie bang dat die perd op haar sal trap nie.
Annatjie Venter het genesing deur perde gevind. Sy glo dat 'n mens en perd heeltemal verander wanneer wedersydse liefde gegee word. Foto: San-Marié Cronjé
Lees 'n vorige artikel hier: Perdeliefde bring genesing
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'