RIVERSDAL NUUS - 'n Bekende en gewilde pastoor van die Rainbow Community Church (RCC), Pietie Pieterse van Riversdal is na 'n kort siekbed Donderdagoggend, 7 Oktober in die plaaslike hospitaal oorlede.
Pieterse (55) het nog Sondag gepreek, waarna hy nie lekker gevoel het nie en is hy Sondagmiddag in die hospitaal opgeneem.
Volgens sy seun, Darren, was dit sy pa se passie om mense te help, veral jongmense.
"Hy het altyd uit sy pad gegaan om jongmense en die gemeenskap by te staan, al was dit heel dikwels selfs mense van buite sy gemeente. Dit is maar die mens wat hy was."
Volgens Darren het hy ook altyd die vrede bewaar. "Hy was 'n ongelooflike mens en sal altyd onthou word vir sy mensliewendheid."
Pieterse word oorleef deur sy vrou van die afgelope 33 jaar, Julien, vier kinders, Petrolene, Jayson, Josua en Darren, asook agt kleinkinders.
LEES MEER: Prosedure wanneer 'n wykskandidaat afsterf
Pieterse was 'n DA-wykskandidaat vir wyk 6 in Riversdal met die komende plaaslike verkiesing.
"Dit is met groot hartseer dat ons van pastoor Pietie se afsterwe verneem het," het Andrew Stroebel, DA Hessequa-voorsitter gesê. "Ons gebede, liefde en omgee gaan uit aan die volle Pieterse-gesin in hierdie baie moeilike en hartseer tydperk."
VORIGE ARTIKEL: DA-wykskandidaat skielik oorlede
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'