RIVERSDAL NUUS - Die skielike afsterwe van past Pietie Pieterse op 7 Oktober wat ook 'n DA-wykskandidaat vir wyk 6 was, het heelwat vrae van kiesers in dié wyk ontlok.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie(OVK) se provinsiale beampte, Michael Hendrickse, het bevestig dat kiesers steeds vir die kandidaat sal kan stem.
"Sy naam sal steeds op die stembrief verskyn, al het hy gesterf. Indien die persoon in postuum die wyk wen, sal daar spoedig na die verkiesing 'n tussenverkiesing in daardie wyk plaasvind."
LEES MEER: Pastoor verwissel tydelike met ewige
Volgens die DA Hessequa-voorsitter, Andrew Stroebel, het die party na gesprekke tussen alle betrokke rolspelers besluit dat past Pietie se seun, past Jason Pieterse die mees gepaste kandidaat sal wees om sy pa se visie vir wyk 6 'n werklikheid te maak.
"Jason sal met die veldtog in wyk 6 voortgaan, maar sy pa se naam sal steeds op 1 November op die stembrief wees," verduidelik hy.
Indien die DA die wyk wen, sal 'n onmiddellike vakature deur die OVK verklaar word, waarna Jason hul wykskandidaat sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'