Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Masels is 'n hoogs aansteeklike siekte wat deur inenting voorkom kan word.
Suid-Kaap Forum het 'n meningspeiling oor die wenslikheid van inenting teen masels gedoen na aanleiding van 'n maselsepidemie wat onder meer in Brooklyn, New York in die VSA voorgekom het.
Ons lesers het oorwegend gesê inenting is noodsaaklik, terwyl nog 'n leser gesê het "inenting is gif".
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) was daar gedurende die eerste drie maande van 2019 'n 300%-toename in die voorkoms van masels.
"In Suid-Afrika is die doel van ons roetine-immuniseringskedule om die siekte totaal te elimineer," sê dr. Gideon van Tonder, mediese bestuurder van Hessequa-subdistrik van die gesondheidsdepartement. "Om dit reg te kry moet 95% van kinders albei dosisse ontvang. As gevolg van suksesvolle immunisering het masels vanaf 2000 tot 2015 wêreldwyd met 79% afgeneem."
Hoekom laat mense nie hul kinders inent nie?
- In arm lande kan ouers dit nie bekostig nie
- In oorloggeteisterde lande is die nodige entstof onbeskikbaar
- In Europa dink mense masels kom nie meer voor nie
- In Israel en Japan is dit teen sommige se geloofsoortuiging
- In die VSA glo baie die wanopvatting dat inenting outisme veroorsaak
Wat het dit met ons uit te waai?
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van Wes-Kaap departement van gesondheid, het geen gevalle van masels onlangs in Hessequa voorgekom nie, maar dit kan in 'n oogwink verander. Talle Suid-Afikaanse gesinne het iemand wat in die buiteland woon. As hulle kom kuier of jy daar gaan kuier, kan jy die siekte opdoen of ten minste die virus saambring huis toe.
Omdat masels hoogs aansteeklik is, is enigiemand wat nie daarteen ingeënt is nie, vatbaar. Die virus is so sterk is dat dit nog twee ure lank in die lug rondhang waar iemand met masels genies of gehoes het.
Veral kinders wat nie immuun is omdat hulle ingeënt is of masels gehad het nie, kan die siekte opdoen.
"Volgens ons immuniseringsskedule word inenting teen masels gratis op 6 en 12 maande by provinsiale klinieke gedoen," sê Ferreira. "MMR-inentings is nie deel van ons immuniseringsskedule nie, maar kan wel by privaat instellings gedoen word."
Simptome van masels
'n Rooi veluitslag verskyn binne die eerste drie tot vyf dae nadat die pasiënt aan die virus blootgestel is. Ander simptome is hoë koors, spierpyn, waterige, rooi, geswelde en ligsensitiewe oë, 'n loopneus en hoes, asook wit kolletjies in die mond. Sowat vyf dae nadat die uitslag verskyn het, dra die pasiënt nie meer die virus oor nie.
Masels kan ernstige gevolge hê, soos longontsteking, breinvliesontsteking, doofheid of selfs die dood.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Masels maak die wêreld bang
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'