HEIDELBERG NUUS - Die jaarlikse Pampoenfees wat op 27 en 28 Maart sou plaasvind, is weens die koronavirus (Covid-19), uitgestel.
"Ons het nie 'n ander keuse as om die fees uit te stel nie, maar ons wil dit duidelik maak dat ons dit nie afstel nie," het Michael Amos, restauranteienaar en organiseerder van die fees die week gesê.
Die aankondiging van 'n noodtoestand weens die virus verbied dat meer as 100 mense op een plek mag vergader. Die verwagting was dat die fees oor die twee dae meer as 4 000 mense sou lok.
Volgens Amos is al die reëlings reeds gefinaliseer. "Die pampoene is soos babas opgepas en gereed om ge-oes te word. Die raklewe van hierdie pampoene is egter nie baie lank nie en sal steeds op 28 Maart ingeweeg word waarna die wenners aangekondig sal word. Dit sal by 'n privaat geleentheid plaasvind waar net die kwekers en borge toegelaat sal word. Sodoende sal ons kan voldoen aan die verbod op 'n samekoms van meer as 100 mense."
Volgens hom is daar groot prysgeld op die spel en die kanse is goed dat die Suid-Afrikaanse en Afrika-rekord vanjaar gebreek kan word. Daar sal pryse wees vir die swaarste 15 pampoene, asook die mooiste en lelikste pampoen. Die totale prysgeld beloop R40 000. Indien die Suid-Afrikaanse rekord gebreek word, sal die wenner nog R25 000 wen. Indien die wenpampoen swaarder as 750 kg weeg, sal die wenner nog R50 000 wen.
"Ons het baie hard gewerk om die beste fees ooit te reël. Die stalletjies is met die hand uitgesoek om te voorkom dat daar nie twee is wat dieselfde artikels verkoop nie. Reëlings met Hessequa-munisipaliteit is in plek. Sporthoogtepunte soos die bergfiets ren en gholfdag sal op die nuwe feesdatum voortgaan soos beplan."
Die kunstenaars vir die fees, soos Jo Black en Leah, se fooie is ook reeds betaal. "Die nuwe datum vir die fees sal ook afhang van wanneer hulle weer beskikbaar gaan wees."
Volgens Amos het almal wat betrokke was met die reëlings baie begrip vir die dilemma.
"Ek glo as ons pro-aktief optree en alles doen wat ons kan om die virus te stuit, sal ons dié uitdaging oorkom. Almal moet nou saamstaan, kalm bly en let op persoonlike higiëne. Was hande, was hande en nog 'n keer, was hande!"
Wat is 'n pampoenfees sonder pampoene? "Ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om al die pampoenkwekers te bedank vir al hul harde werk deur die jaar om die pampoene te kweek. Ons wil ook al ons borge bedank vir hulle ondersteuning. Ons vier die pampoene waarvan die saad gestoor sal word tot ons dit volgende seisoen weer aan kwekers uitdeel - en dan doen ons dit net nog beter! Ons sal die tradisie wat reeds 10 jaar aankom, voortsit."
Inligting oor die terugbetaling van toegangskaartjies en kaartjies wat reeds vir vertonings verkoop is, sal op die webtuiste by www.pumpkinfestival.co.za en die Faceboek-blad bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'