HEIDELBERG NUUS - Die dorp se jaarlikse Pampoenfees vind Vrydag 8 en Saterdag 9 Maart by die skouterrein plaas.
Suid-Kaap Forum is die mediaborg vir dié fees waartydens die grootste pampoen in die land aangewys word.
Die groot pryse wat jy met jou inskrywing kan wen is nie te versmaai nie. Die heel grootste pampoen wen R15 000. As jou pampoen die Suid-Afrikaanse rekord breek, kan jy R30 000 verdien. As dit meer as 750 kg weeg, kan jy R60 000 ryker wees en as dit die wêreldrekord laat spat, kan die bedrag opskuif tot R150 000.
Die fees is nie net die viering van die grootste pampoen in die land nie, maar bied ook 'n groot verskeidenheid ander aktiwiteite en vermaak aan.
Daar is 'n biertuin, wynproe, potjiekoskompetisie en stalletjies waar jy feeskos kan koop.
Gedurende die dag is daar pretaktiwiteite vir die hele gesin, soos kuns en handwerk, lewendige musiek, 'n biertuin, boetiekbier en -jenewer en 'n mallemeule. Luukse kampeerplek is op die skouterrein beskikbaar.
Vrydagaand word vermaak vir die hele gesin aangebied, wat onder meer 'n dans in die biertuin en vertoning deur Bok van Blerk insluit.
Vir sportgeesdriftiges is daar Saterdag 9 Maart gholf en rolbal en selfs 'n 4x4-kompetisie om aan deel te neem. Die hoogtepunt is die fietsrenne en veldren oor verskillende afstande.
Groot Pampoen-fietsry en inskrywingsfooi
- 100 km (Mini-Fondo) fietsren – R350
- 60 km fietsren – R250
- 25 km fietsren – R150
- 15 km veldren – R150
Bergfietse is welkom om deel te neem in die langer afstande oor 60 en 100 km.
Skryf aanlyn in by www.pumpkinfestival.co.za of Vrydag 8 Maart vanaf 18:00 tot 21:00 by die Spur in Heidelberg. Registrasie Saterdag 9 Maart vanaf 06:00 tot 07:00 vind op die skouterrein plaas.
Die hekke open 16:00 Vrydag en die toegangsfooi is R150, wat Bok van Blerk se vertoning insluit. Saterdag se toegangsfooi is R20 per persoon.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'