HESSEQUA NUUS - 'n Mens kan met min moeite en 'n bietjie beplanning elke dag van die sowat 198 skooldae in 2020 vir jou kind 'n gesonde kosblik pak.
Elke leerder het gesonde kos nodig om hom of haar deur die dag se skoolwerk en sportaktiwiteite te dra.
Voedsame kos sal die liggaam aan die gang hou en die brein stimuleer om die beste van die leergeleentheid te maak.
Dit kan nogal skrikwekkend wees om te dink dat bykans 200 kosblikke vir jou voorlê, maar die inhoud hoef nie duur of deftig te wees of ure se voorbereiding te verg nie.
Hou dit eenvoudig en sorg dat die kosblik vrugte en groente, vesel, proteien, suiwel en vloeistof insluit.
Vrugte en groente
Skaf vars groente en vrugte wat in seisoen is aan. Sluit wortels, komkommer, mielies, kersietamaties, bessies, appels, piesangs en druiwe in.
Kosblikplan: Sny die wortel en komkommer in repies, sny die pitte van gisteraand se heelmielie af en sny die vrugte in happiegrootte of maak 'n vrugteslaaitjie.
Veselryke voedsel
Dit sluit volgraan-brood, 'n wrap, pasta, rys of kraakbeskuitjies in.
Kosblikplan: Maak toebroodjies met 'n soutige groente- of vleissmeer, bedek met kaas of ham en sny in 'n skattige vorm. Los maar liewer die konfyt of sjokoladesmeer. Vul die wrap met avokado, tuna, 'n paar groen babaspinasieblare of vars basiliekruid. 'n Bakkie van gisteraand se pasta is ook 'n lekker vullende maaltyd.
Proteien
Hoender, ham, eier, biltong, kaas, grondboontjiebotter en neute is gesonde happies.
Kosblikplan: Maak 'n eiertoebie en sluit skyfies ham of gaar vleis en 'n paar neute in.
Suiwel
Kaas, jogurt en maaskaas is 'n heerlike gesonde happie.
Kosblikplan: Sluit 'n klein bakkie suikervrye jogurt, 'n kaaswiggie of kraakbeskuitjie met 'n smeersel maaskaas en biltong in.
Vloeistof
Water is die beste en goedkoopste dorslesser.
Snoepiekos
As jy die dag nie by kosblikpak uitkom nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Leer jou kind van kleins af om gesonde kos te kies. Dit beteken voedselsoorte wat nie 'n oormaat sout, suiker of preserveermiddels bevat nie, maar propvol voedingstowwe, minerale en vitamiene is. As die skool se snoepie nog nie gesonde kos aanhou nie, is dit tyd dat jy dit vir die snoepietannies voorstel.
Dit is ook belangrik dat jou kind al die nodige inentings ontvang en gereeld ontwurm word. Vind by die kliniek of die skoolsuster uit watter inentings nodig is en om 'n ontwurmingsmiddel voor te stel.
Op hierdie manier kan jy jou kind help om gesond te wees sodat hy of sy met oorgawe kan leer en speel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'