RIVERSDAL NUUS - Marilise Lombard, die organiseerder van die onlangse Hiefel en Fiefel Pad-af-kunsuitstalling op Riversdal, sê dit was so 'n groot sukses dat dit beslis nou 'n jaarlikse instelling gaan word.
CJ Langenhoven was 'n inspirasie vir die kunsroete en die kunsuitstalling is rondom sy gedig, Die Hiefel en die Fiefel gebou.
Van 25 tot 27 Maart is kunswerke by verskillende venues op die dorp uitgestal. Hiefel en Fiefel het nie alleen solo, groeps- en permanente uitstallings ingesluit nie, want werkswinkels, boekvoorlesings, musiek, kinderkuns, heerlike eetgoed en saamkuiers in pragtige tuine het dit 'n fees van kultuur gemaak.
Lombard is met goeie rede in haar noppies.
"Wat 'n lekker, propvol naweek! Maar eintlik, wat 'n fantastiese reis was die Hiefel en Fiefel nie. Kunslekkerte, kunsharte, nuwe vriendskappe. Dis so kosbaar. Dis fantasties dat kunstenaars en kunsliefhebbers pad-af so bande kon smee."
Kunsliefhebbers kon 'n paspoort koop wat hulle padkaart was vir die uitstallings.
Die kaart het al die verskillende venues aangedui asook die naweek se program wat met 'n sonsopkomsdiens by Oude Eik-gasteplaas afgesluit is.
Anthony Noble, 'n bekende kunstenaar van George, bring sy boodskap terwyl hy skilder.
Kunstenaar Anthony Noble het 'n pragtige boodskap gebring terwyl hy 'n skildery gemaak het en Riversdal Uitvoerende Kunste (RUK), onder leiding van Pam de Goede, Soekie Krog en Jack Schoeman, het die lofprysing gedoen. Wat 'n belewenis.
Irma Huysamer het met die boekvoorlesings oud-Riversdaller, Bernard Fielies in gesprek met Carmen Karelse voorgestel, asook vir Hendie Grobbelaar van Gouritsmond in gesprek met prof Rex van Vuuren oor haar boek Maskermense.
By die Ou Tronk het jong besoekers hulle gesiggies laat verf en die Hartmark hier het groot aftrek gekry.
Die kinderkunsuitstalling, Sagmoedige Neelsie het pragtige werke van Paddavlei Kuns Kids ten toon gestel, elkeen met 'n Langenhoven-tema.
Hiefel en Fiefel Pad-af-kunsuitstalling is in pas met Hessequa-kunsroete se beleid om die dorpe wat onder hulle resorteer die geleentheid te bied om hulle kunstenaars blootstelling te gee, sonder om ander streekskunstenaars uit te sluit.
Alle besoekers is dit eens dat hierdie unieke uitstalling 'n standaard stel wat moeilik is om te klop en almal sien met dankbare kunsharte uit na Hiefel en Fiefel 2023.
Die beste tuinuitstalling deur Leana Verwey.
Christiaan de Swardt verwelkom kunsliefhebbers by sy ateljee op Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'