Update
SWELLENDAM NUUS - Die Overbergfees het Vrydag 27 Oktober afgeskop met 'n neon- pretstap.
Deelnemers het om 19:00 hulle helderste klere aangetrek en met neonliggies vir die groot oomblik gewag om by die Joshua Generation kerk weg te spring.
Na afloop van die 5 km kon hulle 'n koeldrank geniet en deur die stalletjies rondsnuffel vir unieke tuisgemaakte skeppings.
Heerlike eetgoed was beskikbaar en in plaas van die tradisionele pannekoek met kaneel en suiker, was daar pannekoek met melktertvulsel wat voorwaar 'n plesier vir die smaakkliere was.
Volgens 'n deelnemer, Helene Smit was dit vet pret.
"Dit was lekker om die aand saam met goeie vriende deur te bring, terwyl jy vars lug en oefening inkry.
"Mense wat nie deelgeneem het nie, het van hulle stoepe vir ons gewaai, seker vir ons snaakse neonuitrustings. Die gourmet burgers en pannekoek was die hoogtepunt van die aand."
Ramone Claasen, Bronnie Wolhuter en Mariza Olivier sorg vir mooi agtergrondklanke.
Later die aand het feesgangers rustig 'n koppie koffie in die feestent geniet terwyl 'n orkes die aand met klanke gevul het wat die hartsnare roer.
Die fees is die volgende dag voortgesit met nóg meer stalletjies. Die aand het die bekende gospelsanger, Merwis opgetree en 'n inwoner Nicolene Belcher, het gesê 'n mens kon werklik die Here se teenwoordigheid voel.
"Dit was nie 'n konsert nie, dit was net spontane aanbidding sonder woorde wat jy hoef te volg."
Vir Merwis was dit belangrik dat elkeen 'n konneksie met God maak.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'